HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Wetteloosheid is wortel van die kwaad


   19 October 2017   l   Hoofartikel    l   Views: 15   l   33 days ago  

 


“Afrika het ons uitgespoeg. Die vasteland wil ons nie meer hier hê nie. Ons (en die bietjie geld wat oor is) moet so gou as moontlik landuit en ons moet ons kinders aanmoedig om dieselfde te doen,” skryf iemand die afgelope week op Facebook. 

Hoe antwoord ’n mens so iemand?

Dit is die vraag wat Die Pos se redaksiespan die afgelope week op dié koerant se Facebook-blad geplaas het. Lesers se kommentaar was interessant en dit is verblydend om te verneem dat daar nog Suid-Afrikaners is wat vashou aan die hoop dat sake in die land sal verbeter. Die meeste mense wat egter kommentaar gelewer het, voel dat Suid-Afrika nie meer vir hulle ’n heenkome bied nie. Van die kommentaar op dié Facebook-inskrywing lui: “Jy stem saam; as jy intelligent is”, “So hartseer, maar waar” en “Feite”.

Dit is duidelik dat Suid-Afrikaners moedeloos is oor landsake. As ’n mens tussen die lyne lees, is dit veral die wetteloosheid wat deur die negatiewe politieke klimaat aangevuur word, wat mense se hoop knak. 

Dit is nie nodig om verder as Die Pos se lesersgebied te gaan soek om hierdie wetteloosheid raak te loop nie. Daar gaan nie ’n week verby sonder dat Die Pos berig oor ’n plaasaanval, sakeondernemings en individue wat beroof is en korrupsie by munisipaliteite nie.

Die onbegrip vir demokratiese prosesse, waarvan wet en orde een van die steunpilare is, skree ten hemele. Hierdie onbegrip het die afgelope week weer duidelik gespreek toe EFF-lede gedreig het om ’n oop stuk munisipale grond op Bela-Bela onwettig te beset en selfs begin het om bome af te kap en die terrein skoon te maak. 

Sello Moswoeu, EFF-raadslid, het tydens ’n vergadering op Dinsdag, 17 Oktober, waar die polisie, die EFF, inwoners van Spa Park en munisipale raadslede teenwoordig was, gesê: “Ek is ’n raadslid van die munisipaliteit; dus is die grond myne.”

Wetsgehoorsame burgers kan maar net die kop skud oor hierdie redenasievermoë van ’n verkose “leier”.

Duisende Suid-Afrikaners klou aan die hoop dat daar tydens die ANC se verkiesingskongres in Desember ’n “wonderwerk” sal gebeur, dat die regte president verkies sal word en dat die pilare van Suid-Afrika se demokrasie weer stelselmatig herbou sal word sodat wet en orde herstel sal word.

Indien dit nie gebeur nie, lyk dit helaas asof ’n reeds moedelose volk se knieë kan knak.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories