HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Hoe wreed kan mense wees?


   08 February 2018   l   Hoofartikel    l   Views: 743   l   3 months ago  

 


Die kommentaar onderaan nuusberigte maak ’n mens soms só diep bedroef dat jy op jou toetsbord wil lê en ween.

Die “superouers” is seker die heel ergste. Geseënd is hulle dan seker — en uitverkore daarby — want blykbaar kom die oordeel hulle toe. Hulle wat met openbare berisping lae houe na bloedneus-ouers bly uitdeel.

Die afgelope week was dit weer so toe lesers met skok verneem het van ’n 11-jarige seun van Empangeni wat eers sy babasussie per ongeluk raakgeskiet het en toe, waarskynlik uit skok oor wat hy gedoen het, homself met sy tronkbewaarderpa se vuurwapen doodgeskiet het. 

Gebruikers van sosiale media het klaarblyklik ’n fees oor dié tragedie gehad. 

Die pa is links en regs veroordeel, beterweterige mense het raad uitgedeel en die sarkasme het gedrup toe mense vrae begin vra oor kluissleutels.

Daardie ouers maak seker nie foute nie. Dis nie húlle kinders wat per ongeluk raakgeskiet word wanneer gewere skoongemaak word nie. Dis nie húlle kinders wat in dieretuine na benede tot in gorillahokke tuimel nie. 

Dis nie húlle kinders wat so on-hebbelik is om hul snothandjies deur wilde diere se hokke te druk nie. Hulle kinders ken hul plek — hulle brand nie by oop braaivleis-vure nie, val nie sonder beskermde klere van vierwielmotorfietse af nie en is altyd in hul veiligheidstoeltjies vasgegordel — selfs vir ’n rit kafee toe. Hulle word nie deur hul dagmoeders mishandel nie, want daardie ouers weet presies waar hul kinders elke oomblik van die dag is. Hulle trek nie kokende potte olie op hulself om nie want die potte se handvatsels is mos altyd na binne gedraai. Luiperds val nie hul kinders deur oop vensters aan nie, want die vensters is altyd toe. 

Hulle tieners ry nooit saam met aangeklamde mense rond nie of glip nie laataand by agterdeure uit nie.  

Ouers wie se kinders ’n verskrik-like ding oorgekom het, het selde ’n tekort aan skuldgevoelens. En terwyl hulle vergaan van ellende, is daar altyd dié met vlytige vingers op sosiale media. Dit is dié openbare stappery met modderspore oor ander se hartsgoed wat ons hier by Die Pos soms na die dae van media-sensorskap laat verlang. Die dae toe daar net plek op die brieweblad vir vier “sinvolle” briewe was, en die redakteur kon besluit wat “sinvol” is en wat nie.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories