HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Haal diep asem en steek hande uit


   17 May 2018   l   Hoofartikel    l   Views: 10   l   4 days ago  

 


Suid-Afrikaners het (met goeie rede) onder ons vorige president, Jacob Zuma, ’n kritiese, vuisvoos, siniese nasie geword.

Dit is vir talle mense ’n marteling om koerant te lees en om aan die publiek se mening op sosiale media blootgestel te word.

Van die nasietrots en eensgesind-heid wat Suid-Afrikaners tydens ons euforiese aanbiedings van die 1995-rugbywêreldbeker en die 2010-sokkerwêreldbeker ervaar het, het weinig oorgebly. Daarvoor het Zuma, die Guptas, die land se hemelhoë misdaadsyfer, staats-kaping, grondgrype en plaasmoorde gesorg. 

Pres. Cyril Ramaphosa het die byna onbegonne taak om ’n hele land uit ’n diep depressie te lig. En soms vind ’n mens dat sommiges só diep in die put is, dat net mooi niks hulle daar gaan uitlok nie.

Ramaphosa doen iets wat sy voorganger nóóit gedoen het nie: Hy luister na Suid-Afrikaners. Hy antwoord sinvol op vrae en hy bemoedig.

Ja, daar is baie waarvoor Suid-Afrikaners bekommerd behoort te wees, maar daar is darem ook baie waaroor ons dankbaar kan wees. Om net ’n paar te noem: ’n President wat sê ministers wat geld verkwis of steel, sal aanspreeklik gehou word daarvoor; dat staatskaping nie geduld sal word nie; dat anargie en geweld nie in die hele gronddebakel geduld sal word nie. Hy steek ook in die openbaar die hand uit na ander politieke partye in die land en nooi hulle vir samesprekings. 

Miskien het dit tyd geword dat gewone landsburgers so ’n bietjie diep asemhaal en sáám in die put klim om die kalf te help uitgrawe.

Ja, baie van ons skole is in ’n beroerde situasie, maar kyk net hoe spring lesers van Die Pos uit om te help om vir Susan Strijdomskool in Modimolle te help om broodnodige kunsartikels in te samel.

Ja, ons paaie is in ’n toestand, maar kyk hoe help inwoners en sakelui van Mookgophong om die stukkende paaie self te herstel.

Ja, die waternood is hoog, maar sien tog raak dat daar sakelui in Modimolle is wat help om boorgate te boor.

Lees in Die Pos hoeveel mense deesdae hulp aanbied om hul dorpe te verfraai, komberse vir behoeftiges in te samel, kos vir die armes te skenk of boeke aan ’n biblioteek en leesklubs te skenk. 

Probeer tog maar dié week om elke stukkie kritiek met ’n goeie daad op te volg. Die gevolge sal verstommend wees.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories