HOOFSTORIES: •   Vreugde én trane ná reën   •   Werkers sluit burgemeester en ander hoës toe   •   Modimolle in duister na goeie reën   •   Beware of 'police officers'   •   Suid-Afrika siek en sat vir plaasaanvalle   •   Terug skool toe vir oud-onnie   •   Kinders veilig ná gru-ongeluk   •   Misdaad op Bela-Bela styg   •   Dorp se uitdagings bespreek   •   Hekelkoningin kuier op Vaalwater   •   Jagter nie meer voor vir moord   •   Matrieks op die loopplank   •   Hinderniswedloop ’n eerste   •   Motorfietsryers durp lang pad aan teen plaasmoorde   •   Bekende wedloop om die draai
 

 
 

 

Rehabilitasiesentrum vir wilde diere open


   11 August 2017   l   Carina Bester    l   Views: 151   l   2 months ago  

 

Chukudu Wildlife-rehabilitasiesentrum is net buite Mookgophong geleë en neem beseerde of weesdiere in vir versorging met die doel om die diere weer in die natuur vry te laat. Hier staan Juanita Geyser, eienaar, en Wynand Bekker, projekbestuurder, by die roofdiere se hokke.


Beseerde wild in die Mookgophong-omgewing spog deesdae met ’n nuwe heenkome wat hulle ’n tweede kans op lewe bied. 

Die Chukudu Wildlife-rehabilitasiesentrum is in Januarie vanjaar gestig en die finale bouwerk is byna voltooi.

Volgens Juanita Geyser, stigter van die rehabilitasiesentrum, huisves en versorg hulle enige beseerde of getraumatiseerde wilde diere met die doel om die diere later weer in die natuur vry te laat. 

“Ons wil die gemeenskap bewus maak daarvan dat wilde diere ’n tweede kans het. As ons nie mense bewus maak van die natuur nie, sal daar niks vir die toekoms oorbly nie. Ons is bereid om self die diere te kom haal. Ons het die nodige permitte en sal selfs probleemdiere wat boere in hokke vang, by die boer gaan haal,” het Geyser gesê. 

“Die diere wat ons inneem word versorg en ook deur ’n veearts behandel.” Sy het voorts gesê afgevaardigdes van die departement van natuurbewaring besoek hulle gereeld en hulle is tot dusver baie tevrede met die sentrum.

Chukudu wat reeds met 15 hokke vir roofdiere spog, asook twee moederskamers vir klein en beseerde diere, sal ook binnekort oor vyf groot hokke vir voëls soos arende en uile en twee groot kampe vir bokke beskik. 

Volgens Geyser sal vrywilligers van oorsee ook betrokke wees by die sentrum om eerstehands te ervaar hoe ’n rehabilitasiesentrum werk en skoolkinders is ook welkom om tydens skoolvakansies as vrywilligers te help. 

Wynand Bekker, projekbestuurder, het gesê hierdie is eintlik ’n 24-uur werk en die vrywilligers sal baie help. 

Geyser het gesê hulle is baie afhanklik van skenkings van oortollige voer of karkasse en hulle sal ook dít self gaan afhaal. Skenkings van ou komberse en speelgoed is ook welkom. 

“Ons werk nou saam met ander instansies en indien ’n instansie beter geskik is om na die dier om te sien, sal ons die dier eerder daarheen neem.” Die sentrum huisves tans onder meer ’n luiperd, rooikatte, leeus en ’n tierboskat. Hulle gaan ook binnekort klein, weesnjalas versorg.

Chukudu Wildlife-rehabilitasiesentrum is ongeveer 4 km uit op die Constansia-grondpad buite Mookgophong. Die gemeenskap is welkom om hulle te besoek. ’n Fooi sal moontlik later by die hek gevra word wat aangewend sal word vir die diere se versorging. 

“Hierdie is nie ’n sentrum waarmee ons geld wil maak nie; dit gaan oor ’n absolute passie vir diere — ’n droom wat ’n werklikheid geword het.” 

Geyser het gesê hulle is ongelooflik dankbaar teenoor Stoffel en Elta Moodie wat die grond en boumateriaal beskikbaar gestel het sodat hulle die rehabilitasiesentrum op die been kon bring. 

Vir meer inligting oor die rehabilitasiesentrum of om dit te besoek, bel vir Geyser by tel. 079 448 2556.  

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       



Ander stories