HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Rolspelers sê oor Bela-Bela-behuisingsprobleem


   10 November 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 239   l   12 days ago  

 


Bela-Bela se veelbesproke grondtransaksies en gepaardgaande behuisingsprobleem het die afgelope maand soveel opspraak verwek dat die kwessie tot in die parlement ter tafel gelê is.

Die Pos het die afgelope week ’n paar prominente rolspelers gevra wat hulle dink die oplossing is om die behuisingsprobleem op Bela-Bela op te los.

Willie Claassens, Bela-Bela-sakekamer-voorsitter:

Die sakekamer is ten gunste daarvan dat die dorp voorsiening maak vir lae- en middelinkomstebehuising volgens die spesifikasies wat tydens ’n onlangse algemene vergadering deur die dorpsbeplanner uiteengesit is. 

Dit sal noodlottig vir ons dorp wees as daar reusebedrae geld uitgegee word — wat ons nie hét nie — om privaat grond vir behuising aan te koop terwyl daar genoegsame gratis munisipale grond vir daardie doel beskikbaar is. 

Die sakekamerlede beskik gesamentlik oor baie ervaring en kennis. Ons wil dit graag tot voordeel van die dorp aanbied, en het dit reeds ook so aan die dorp se burgemeester, Jeremiah Ngobeni, oorgedra.”

Jeremiah Ngobeni, Bela-Bela-burgemeester:

Ons is bewus van die agterstand rakende behuising, maar sodra die huidige infrastruktuur opgegradeer is, sal die dorp die vermoë hê om meer huishoudings te kan akkommodeer. Ons wil dit net duidelik stel dat geen dorpsuitbreiding sonder deeglike beplanning sal plaasvind nie en dit sal alles van die hoeveelheid basiese dienste wat toegestaan kan word, afhang om te verhoed dat die dorp in ’n krisis gedompel word. Die enigste heropbou- en ontwikkelingsprogram (Hop) gebeur tans in Uitbreiding 9 in die Bela-Bela-township waar daar teen die begin van die nuwe finansiële jaar 700 huise aan mense oorhandig sal word. Daar is egter mense wat aansoek gedoen het, maar nie daarvoor gekwalifiseer het nie, aangesien die databasis aangedui het dat hulle by-voorbeeld ook elders vir behuising aansoek gedoen het en reeds huise ontvang het. Indien die infrastruktuur nie opgegradeer is nie, kan geen verdere ontwikkeling plaasvind nie.”

Fred van Heerden, ontwikkelaar:

Dit maak my en my familie ongelukkig om mense — van alle bevolkingsgroepe — in sinkhuise te sien leef. Dit help nie om net gal te braak teenoor die plakkers nie. Soos met ’n siekte moet die oorsaak hanteer word en in Bela-Bela se geval moes dié oorsaak reeds jare gelede blootgelê geword het, naamlik die beskikbaarheid van grond vir laekostebehuising. Die besetting van grond vind landwyd plaas en mense van alle politieke partye fokus in die meeste gevalle daarop om steun te werf. Daar is al jare lank nie genoegsame grond vir behuising beskikbaar gestel vir die minderbevoor-regtes op die dorp nie. 

Inwoners, wat politici insluit, het ’n keuse: ons kan saamstaan en versoek dat die regering geld beskikbaar stel vir laekoste-behuising, wat grondkoste en dienste insluit, of dit teenstaan en die gevolge — soos verdere grondbesettings — dra. Wanneer besetting ongeordend plaasvind moet plaaslike inwoners die koste dra van dienste, paaie en dies meer. My familie veg al vir jare teen die besetting van ons grond, maar ek is moeg geveg en smag nou na rus en vrede.

Sello Moswoeu, EFF-raadslid Bela-Bela:

As die grond gepas en beskikbaar is vir mense om daarop te woon, moet hulle dit vat. Die EFF se optrede om grond in die omge-wing te beset, gaan steeds voort om druk op die munisipaliteit te plaas dat hulle ook basiese dienste aan elke persoon in die omgewing moet voorsien. Dit is ons rol as die EFF om die geveg voort te sit en om namens die gemeenskap te baklei vir die behoefte na behuising. As die regering nie wil luister nie, sal ons net meer druk op hulle plaas. 

Kobus van der Merwe, DA-raadslid op Bela-Bela: 

Die oplossing is dat die regerende ANC-party op die dorp uitgestem moet word deur die DA sodat daar daadwerklike, professionele en eerlike dorpsbeplanning gedoen kan word. Die beste oplossing tans is dat die departement van tradisionele sake en samewerkende regering (CoGHSTA) moet ingryp en die beskikbare Towoomba-grond so gou as moontlik beskikbaar stel om die agterstand reg te stel. Hierdie is die mees logiese, regverdige en goedkoopste opsie tot voordeel van belastingbetalers en die gemeenskap.

NJ van Heerden, stigter van die gemeenskapsorganisasie, Change for Bela-Bela: 

Die behuisingsprobleem kan net opgelos word deur beter samewerking en leierskap tussen almal wat waardevolle bydraes tot die probleem kan lewer. Persoonlike geskille, politieke verwantskappe en die geskiedenis moet eenkant toe geskuif word in die belang van die groter gemeenskap. Die behuisings-probleem sal net opgelos kan word as daar hande gevat word en die probleem saam aangepak word. As dit nie plaasvind nie, glo ons informele nedersettings sal aanhou uitbrei en oral om die dorp gevestig word — wat in niemand se belang sal wees nie. Ons sal graag ook wil sien dat alle politieke partye die erns van die probleem besef en met mekaar sal saamwerk om met oplossings vorendag te kom sodat informele nedersettings iets van die verlede kan word. Die informele nedersettings op en rondom Bela-Bela is ’n seer oog en skrik beleggers af, wat sleg is vir die dorp. Die langtermynskade wat ons dorp sal ly indien die probleem nie opgelos word nie, sal vir dekades negatief op ons dorp inwerk. Ons hoop en vertrou dat goeie leierskap sal seëvier en ons dorp nuwe hoogtes kan bereik.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories