HOOFSTORIES: •   Ruk geldsake reg, sê ouditkomitee   •   Werkers staak steeds   •   Twee raadslede in Bela-Bela-hof   •   Inwoner aangerand terwyl ander toekyk   •   Twee vas ná weduwee besteel word   •   Jong vrou sterf skielik   •   Man sterf ná motor teen brug bots   •   DA rig vrae rondom polisiestasies   •   Troeteldiere getraumatiseer deur fees-vuurwerke   •   Brief: Noem my gerus maar oom   •   Pre-holiday makeover for Bela-Bela   •   Geloftefeesvieringe gehou in die Waterberge   •   Food: Cook a Flemish stew   •   Wees versigtig vir slange   •   Goeie reën lei tot opheffing van brandverbod   •   Kranskopfees (vir eers) van die baan
 

 
 

 

EFF plak nou op ander stuk grond op dorp


   17 November 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 870   l   25 days ago  

 

Plakkers het die afgelope week begin om ’n stuk grond naby Spa Park te beset. Die grond behoort aan die ontwikkelaar Fred van Heerden, maar die kooptransaksie tussen hom en die Bela-Bela-munisipaliteit, aan wie die grond voorheen behoort het, is nog nie afgehandel nie. Op die foto is ’n groep mans besig om die strukture van ’n sinkhuis op te rig.


Die EFF stel na verneem word nie meer belang om grond reg binne die goed ontwikkelde woongebied van Bela-Bela onwettig te beset nie, maar het nou hul oog op ’n ánder stuk grond nie ver daarvandaan nie.

’n Handjievol EFF-ondersteuners het sowat ’n maand gelede vir ’n opskudding gesorg toe hulle een naweek bome begin uitkap en strukture ingeslaan het waar hulle glo sinkhuise wou oprig. Die betrokke stuk grond is in die bestaande goed ontwikkelde woongebied en strek van reg oorkant Laerskool Warmbad se sportterrein tot teenaan die Renaissance-aftreeoord en tot bo by die munisipale reservoir. 

Hoewel Fred van Heerden, eiendoms-ontwikkelaar van Bela-Bela, sowel as sy seun, NJ van Heerden, stigter van die organisasie Change for Bela-Bela, in korrespondensie en gesprekke aan Die Pos gesê het hulle dra kennis daarvan dat dié stuk grond glo sonder inwoners se medewete vir laekostebehuising gesoneer gaan word, het talle mense waarmee Die Pos gepraat het, dit as bog afgemaak. 

Volgens die DA se Kobus van der Merwe, is dié stuk grond nog al die jare as landbougrond gesoneer en is dit nooit vir laekostebehuisingsdoeleindes goedgekeur nie. Die dorp se stadsbeplanner, Theo Pretorius, het dit ook beaam tydens ’n vergadering wat verlede maand met besorgde inwoners gehou is.   

Intussen het die EFF glo nou sy oog op ’n stuk grond naby Spa Park, wat aan Fred van Heerden behoort. Van Heerden het dié stuk grond jare gelede by die Bela-Bela-munisipaliteit geruilkoop, maar volgens Van der Merwe is die oordrag nog nie afgehandel nie omdat Van Heerden sedert 2008 geld op die transaksie skuld. Van Heerden het aan Die Pos bevestig dat hy nog geld skuld op dié grond. 

Sello Moswoeu, EFF-raadslid, wat ook die eerste grondgryp gereël het, het Die Pos op Dinsdag, 7 November, genooi om na sy “nuutste grondbesettingsprojek” in Spa Park te gaan kyk. Dit vorm deel van Wyk 9 van die dorp.  

Die grond is direk langs Spa Park Primary School en staan bekend as die Tshela Tupa-omgewing in Koppewaai. Die grond is binne ’n kwessie van dae deur ’n groep mense beset en sinkhuise is daar opgerig nadat die EFF met van die inwoners vergader het.

Moswoeu het gesê tot dusver is 50 erwe skoongemaak en dié gedeelte kan minstens 200 mense huisves. Dié inwoners het egter geen basiese dienste nie.

“Ons het die munisipaliteit sewe dae kennis gegee om toe te sien dat hierdie mense basiese dienste ontvang, want die behoefte na grond bly steeds hoog in ons omgewing. Ons (die EFF) gaan aanhou toesien dat mense grond kry,” het Moswoeu gesê.

Die sinkhuise is tans op ’n skuins oppervlak opgerig. Op ’n vraag aan Moswoeu oor wat kan gebeur indien verspoelings plaasvind, het hy gesê dit is die munisipaliteit se werk om risikobestuur toe te pas en stormwaterstelsels, asook paaie, daar op te rig. Van die inwoners wat daar woon het van privaat dienste gebruik gemaak om hul erwe skoon te skraap, het Moswoeu gesê. 

Van die inwoners wat besig was om huise te bou, het tydens Die Pos se besoek gesê dat hulle innig dankbaar is dat hulle uiteindelik ’n stuk grond gekry het om op te woon.

Moswoeu staan vas dat die EFF se provinsiale leiers van sy optrede bewus is en dat hulle tevrede is met hom en sy optrede. ’n Bekgeveg het intussen onder verskeie EFF-lede uitgebreek oor of Moswoeu in opdrag van sy party optree of nie. Partylede op plaaslike en provinsiale vlak het aan Die Pos gesê Moswoeu “maak net soos hy wil” en dat hy nie ’n mandaat gehad het toe hy mense begin aanmoedig het om reg in die dorpsgebied te plak nie.

Nog ’n EFF-lid, wat verkies het om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê “niemand in die EFF sal nou oor dié kwessie standpunt inneem nie omdat daar eers gewag word vir die party se nasionale kongres later vandeesmaand.”

Van Heerden het in reaksie oor die plakkery op sy grond gesê: “Ek gaan nie meer in skermutselings betrokke raak en weer my lewe op die spel plaas nie.”

Hy het gesê hy wou ’n klag oor die plakkery by die Bela-Bela-polisie gaan lê, maar daar is glo aan hom gesê om sy prokureur te kontak en die saak in die hof op te neem.

“As daar niks van hierdie saak kom nie, sal ek ’n besluit moet neem: veg ek of los ek dit?”

Hy het teen druktyd laat weet hy stel nie belang om hierdie saak verder te beveg nie en “gaan dit daar laat”.

 

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories