HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Werkers staak, dorp sonder water


   01 December 2017   l   Carina Bester    l   Views: 539   l   5 months ago  

 

Munisipale werkers op Mookgophong het vandeesweek weer oor salarisverskille gestaak. Die stakers het op Maandag, 27 November, Nelson Mandelastraat met klippe en takke versper.


Werkers van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se Mookgophong-kantoor, het vandeesweek onwettig gestaak weens die verskil in salarisse van die werknemers in die twee kantore. 

Die Mookgophong-werkers dring daarop aan dat hulle op dieselfde salarisskaal as die Modimolle-werkers vergoed moet word. Die werkers het in Oktober ook oor salarisse gestaak. 

Die Modimolle-munisipaliteit was voor die saamsmelting van die twee munisi-paliteite ’n graad 3-munisipaliteit en Mookgophong ’n graad 2-munisipaliteit. 

Burgemeester Marlene van Staden het Maandag bevestig dat die werkers weer oor hul salarisse staak. 

Volgens haar het die raad die besluit om die werkers se salarisskale te verhoog, goedgekeur, maar die administrasie het die besluit nie betyds geïmplementeer nie. 

Van Staden het by ’n vroeëre geleent-heid aan Die Pos gesê die onderhan-delinge vind op nasionale vlak plaas en dat die Suid-Afrikaanse Plaaslike Owerheidsvereniging (Salga) en die bedingingsraad se proses reeds aan die gang is. Die implementering daarvan sal eers vanaf 1 Julie 2018 begin.

Die stakers het op Maandag, 27 November, klippe en takke in Nelson Mandelastraat (die straat voor die munisipaliteit) gepak en aan die brand gesteek. Die straat was teen middagete weer oop en die stakers het op versoek van die polisie na die munisipale gebou geskuif. 

Inwoners van die dorp is vroeg Dinsdagoggend in kennisgestel dat hul spaarsaam met die water moet werk aangesien watervlakke laag is. Van Staden het by navraag aan Die Pos gesê die stakers is besig om die munisipaliteit te saboteer.

 Die reservoirs by die dam was teen Maandagoggend leeg aangesien twee van die hoof pompe buite werking was. Van Staden het Dinsdagmiddag gesê ’n isolator wat by die Frikkie Geyser aan die brand geraak het, is herstel en dat dit moontlik die oorsaak was dat die pompe nie gewerk het nie. Twee kraglyne se geleiers het ook op die grond gelê. Weens die staking was daar nie amptenare van die munisipaliteit om herstelwerk te doen nie. 

Inwoners het reeds op Dinsdagmiddag watertekorte ervaar en die munisipaliteit moes Dinsdagaand noodgedwonge die watertoevoer na die dorp toedraai sodat die reservoirs kon vol loop. 

OP Sebola, munisipale bestuurder, het die stakers Dinsdag toegespreek, maar die amptenare was na verneem word nie gelukkig met wat Sebola te sê gehad het nie. Teen druktyd het die amptenare steeds gestaak en die munisipale kantore was gesluit. Van Staden het inwoners gevra om nie enige vullis uit te sit nie aangesien die trokke nie die vullis gaan verwyder nie. Sy het ook gesê die water behoort Woensdag teen 12:00 weer reg te wees.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories