HOOFSTORIES: •   Inwoners vies oor vullis in veld   •   Waterkrisis dreig op Mookgophong   •   Polisievrou beseer in ongeluk   •   Groot skade by onderneming ná brand   •   Vroue byna op trein wat bots   •   Hou diere koel op warm dae   •   Unieke skaapras onder die hamer   •   Nuwe baadjie vir begraafplaas   •   Korrupte polisielede in hegtenis   •   Voer op trok vat vlam   •   Leiers reg vir uitdagings
 

 
 

 

Inwoners verlig nadat Eskom-krisis afgeweer is


   15 December 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 255   l   36 days ago  

 

Foto ter illustrasie.


Die verligting onder inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit was groot ná die nuus dat die dreigende krisis dat Eskom die krag weens wanbetaling gaan afsny, afgeweer is. 

Sakelui is egter steeds bekommerd oor hoe lank dié wolf van die deur af weggehou sal kan word. Die Waterberg-sakekamer het daarom ’n uitnodiging aan Desiree van der Walt, DA-LP en hoof van die kiesafdeling, gerig om inwoners te kom toespreek. Sy het Modimolle op Donderdag, 8 November, besoek om inwoners se vrae te beantwoord. 

Van der Walt het uitgebrei oor die DA se samewerkingsooreenkomste met ander partye in die raad. “Daar is nie ’n kontrak met die EFF gesluit nie. Dit is nie ’n koalisie nie, net ’n ooreenkoms dat hulle die DA in beheer in sekere metro’s sal hou as deel van hul plan om die ANC teen te staan,” het sy gesê. Sy het gesê die Modimolle-Mookgophong- en Thabazimbi-munisipaliteite is die eerste twee in die provinsie onder DA-beheer, danksy die samewerking met ander partye. “Dit lyk asof koalisieregerings die toekoms van die land gaan wees,” het sy gesê.

Op vrae van inwoners het sy geantwoord dat die munisipaliteit danksy die billike toedelingtoelaag van R29 miljoen wat hulle van die regering ontvang het, dié maand Eskom en werknemers se salarisse kon betaal. Sy het gesê geen bonusse of oortydbetaling is op dié stadium betaal nie. 

Van der Walt het klem daarop gelê dat dit allerbelangrik is om bekwame bestuurders, asook ’n munisipale bestuurder, in vakante poste aan te stel indien die dorp sy probleme wil oorkom. Die huidige munisipale bestuurder se kontrak verval in Maart 2018. Die ander poste is reeds geadverteer. 

Sy het gesê ’n span van die DA is besig om na oplossings te soek vir dorpe wat vasgevang is in Eskom-skuld. “Hulle wil voorstel dat alle skuld ouer as drie jaar afgeskryf word,” het sy gesê.

Die dorp se skuld aan Magalies Water het ook gestyg en staan nou op R12 miljoen. Daar is glo slegs drie betalings die afgelope jaar gemaak. 

Een van die vrae wat geopper is, is wat geword het van R45 miljoen se munisipale infrastruktuurtoelae wat die munisipaliteit vanjaar ontvang het. Dié geld moes gebruik word vir die herstel van paaie, stormwaterpype en dies meer. 

Van der Walt het gesê sy sal ondersoek instel. Die geld is óf gesteel, óf indien dit nie aan ’n projek toegestaan is nie, moes dit teruggestuur word na die tesourie, wat dit dan sal hertoedeel aan provinsies wat ’n geskiedenis toon dat hulle dit suksesvol gebruik vir byvoorbeeld behuising. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories