HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Inwoners vies oor vullis in veld


   19 January 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 322   l   35 days ago  

 

Inwoners van Modimolle was vies oor munisipale vullistrokke wat die afgelope week glo huishoudelike afval in die veld gestort het. Plastieksakke het in bome en na aangrensende eiendomme gewaai.


’n Munisipale vullistrok wat huishoudelike afval in ’n oop stuk veld oorkant die stortingsterrein op Modimolle stort, het nabygeleë inwoners verlede week die harnas ingejaag. 

Die stortingsterrein is reeds ’n teer punt omdat inwoners van Uitbreiding 10 in Phagameng al jare lank sê dat die aanhoudende brande op die terrein vir hulle ’n gesondheidsrisiko inhou. Die nabye woongebied is dikwels in ’n rookwolk gehul. 

Volgens ’n grondeienaar, wat anoniem wil bly, het vullistrokke talle vragte afval op die oop stuk veld afgelaai. Die vullis is nie toegegooi nie. Die wind het plastieksakke oral in bome en na aangrensende eiendomme gewaai. Die stuk grond, wat ook aan die munisipaliteit behoort, is naby aan huise in Phagameng geleë.

“Ons het vir die werkers gevra waarom hulle die vullis hier stort en hulle het gesê hulle doen dit in opdrag van hul bestuurder. Ontstelde mense het glo die ingang na die stortingsterrein versper omdat hulle nie wil hê dit moet meer gebruik word nie,” het die inwoner gesê.

Die munisipaliteit het teen druktyd nie geskrewe vrae oor die kwessie beantwoord nie. 

Planne om dié stortingsterrein te sluit en ’n nuwe, moderne herwinningsaanleg in die Drie Hekke-omgewing (die gebied ’n entjie agter Pick n Pay) op te rig, is reeds etlike maande aan die gang. 

Bianca Mocke, DA-raadslid en die raad se voorsitter van sosiale ontwikkeling, het gesê hulle het klagtes wat op Donderdag, 11 Januarie, by die munisipale bestuurder aangemeld is, ontvang. Die kwessie word glo verder ondersoek. 

“Die lisensie vir die stortingsterrein is na verneem word in die eerste week van Januarie 2018 ontvang, maar geen amptelike bewys daarvan is al beskikbaar nie. Ons probeer steeds uitvind wat die voorwaardes vir die sluiting en opening van die stortingsterreine is,” het sy gesê. “’n Implementeringsprogram en werkrooster sal eersdaags bekendgemaak word. ’n Groot aantal wetlike prosesse moet gevolg word vir die skep en rehabilitering van ’n stortingsterrein. Daar is tans geen vordering op die nuwe terrein by Drie Hekke nie; slegs ’n plan wat nou uitgevoer moet word,” het sy gesê. 

Volgens haar is daar ’n geregistreerde projek vir ’n munisipale infrastruktuurtoelaag (bekend as MIG-fondse) om vir dié ontwikkeling te betaal. 

Die stortingsterrein was teen druktyd weer oop.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories