HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Mookgophong-egpaar vier 63 goue jare


   09 February 2018   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 54   l   14 days ago  

 

Ben en Tokkie Venter van Mookgophong het op Maandag 29 Januarie hul 63ste huweliksherdenking gevier. Die Venters woon al 28 jaar op die dorp. 

 


Ben (86) en Tokkie (83) Venter van Mookgophong het op Maandag 29 Januarie hul 63ste huweliksherdenking gevier. 

Die Venters woon al 28 jaar op die dorp. Hulle is maar sku en daarom het Ben se susterskind, Wilma Olinsky, wat in Polokwane woon, Die Pos meer vertel oor dié besondere egpaar.

Ben is op 27 September 1931 gebore en Tokkie op 18 November 1934. Ben is een van ses kinders waarvan daar nog drie leef. Vyf van die kinders het 80 jaar en ouer geword en sy oudste broer, Jannie, is al 90 en nog baie sterk en gesond. Sy ouers het ook albei 87 jaar oud geword. 

Tokkie was ook een van ses kinders waarvan daar nog vier leef. 

Die Venter-egpaar is geseënd met goeie gesondheid. Albei het op ’n hoë ouder-dom rugoperasies ondergaan, maar het in ’n japtrap herstel, het Olinsky vertel. Hulle is nog albei op-en-wakker en werk nog self saam in die huis en in sy tuin met sy paar vrugtebome in 7de Straat. 

Ben het vanaf 1951 tot einde 1991 vir die destydse Transvaalse Pad Administrasie (TPA) as voorman gewerk waarna hulle afgetree en van Louis Trichardt na Mookgophong verhuis het. 

“Hy was ’n baie vinnige, bekwame en regverdige voorman. Daardie jare is die paaie baie vinnig gebou, maar jy sou nie ’n slaggat in een van die paaie wat hy gebou het, kry nie. Hy was baie streng, maar het almal regverdig behandel. Werksmense van daardie jare kom nou nog van heinde en verre om hulle te kom besoek en hy het altyd ’n staaltjie of twee om te vertel,” het Olinsky van haar oom gesê. 

Volgens haar het dit hom ongeveer twee jaar geneem om ’n pad van 60 km te bou. Daar het ongeveer 200 mense onder hom gewerk, asook 14 privaat kontrakteurs. 

Tokkie was al die jare aan sy sy en het hom deur dik en dun bygestaan. Haar ouers, Ben en Dollie Groenewald, het ook jare lank op Mookgophong gewoon. “Tannie Dollie het drie huise van hulle af gewoon. Sy het oor die 90 jaar oud geword en tot voor haar dood het sy bedags in haar eie huis gebly en saans na hulle toe gegaan om daar oor te slaap. Oom Ben was een van die beste skoon-seuns waarvan ek weet. Hy het sy skoonma tot haar dood bygestaan. Hulle was wonderlik vir my en was regtig so goed vir al die kinders in die omgewing ook. Tannie Tokkie kan nou nog vreeslik lekker lag,” het Olinsky gesê.

Die Mookgophong-munisipaliteit het hom in 1992 gevra om te kom hand bysit met van hul projekte en dit het op die ou einde tot in 2004 geduur toe hy 73 jaar oud was. 

Die Venters is lidmate van die Hervormde Kerk Naboomspruit en gaan help steeds met kerkgeleenthede. Hulle was baie lief vir rugby en boks toe hul jonger was en het kilometers gery om ander te ondersteun. 

Hulle het drie kinders Lettie, Martie en Bennie, asook ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories