HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Duif vlieg miljoene los


   09 February 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 2410   l   17 days ago  

 

Charl Stander en Sello Tanyane staan trots by die vrug van hul harde en geduldige werk. Die jong wedvlugduif, Mix, was die wenner van die wêreldbekende Million Dollar Pigeon Race.


’n Inwoner van die Kokanje-aftreeoord op Modimolle glimlag dié week breed nadat een van sy wedvlugduiwe die wenner van die wêreldbekende Million Dollar Pigeon Race was en sy eienaars sowat R2 miljoen in die sak besorg het. 

Charl Stander, wat saam met Gigi Gaddin van Johannesburg, aan duifwedvlugte deelneem, het gesê Saterdag 3 Februarie se wenoomblik was ongelooflik. “Niemand mag naby die duiwehokke, wat by die Herron Banks Estate op die oewer van die Vaalrivier geleë is, kom nie, behalwe die ouditeure wat verseker dat alles eerlik verloop nie. Die eienaars van die duiwe wat deelgeneem het, het by die nabygeleë Emerald Casino bymekaar gekom vanwaar hulle op groot televisieskerms die duiwe se aankoms kon dophou. Dit was ’n ongelooflike gevoel toe ons besef ons duif is die wenduif.” Hulle het deelgeneem onder die naam Gaddin Brothers and Stander en die Sonskyn Duiweklub. 

Die hokke se bestuurder, Sello Tanyane, lyk net so trots. Hy bestuur al 18 jaar lank die duiwehokke en ken die groot aantal duiwe se kodes en maniertjies uit sy kop. 

Die duiwe word as vier weke oue kuikens na die duiwehokke toe gestuur waar hulle grootword. Sowat 7 000 duiwe van regoor die hele wêreld word ingeskryf, hoewel net sowat 2 600 uiteindelik deelneem. Volgens Stander was daar baie inskrywings vanuit lande soos Holland, België, Duitsland en China. 

Die duiwe beskou dié hokke as huis en leer om lang afstande af te lê onder die hand van ’n baie ervare afrigter. Die duiwe is vir die kompetisie in die Colesberg-omgewing vrygelaat — 521 km van die huis af. Dié wedvlug word wêreldwyd beskou as die Tour de France van duifwedvlugte en lok daarom internasionale belangstelling.  

“Dit was ’n baie moeilike wedvlug, want die duiwe moes teen die wind vlieg,” het Stander gesê. Nee, lag hy, dit was nie ’n blote gelukskoot nie. Die wenduif, Mix, kom uit kampioenbloedlyne wat met baie sorg geteël is. 

Die duiwehokke wat buite die dorp geleë is, is enige wedvlugduif se droom. Tydens Die Pos se aankoms het tientalle duiwe breëbors op die groen grasperk voor die hokke rondgpronk, met hul geselsery wat ’n gemoedelike dreuning veroorsaak. Die silwerskoon hokke is gebou sodat die ventilasie eksieperfeksie is en dit deeglik skoongemaak kan word. Hoe dan anders as die bewoners etlike miljoene werd is?

Dit is nie Gaddin en Stander se eerste wen nie. Die kantoor staan volgepak met trofeë en groot seremoniële tjeks. 

Dik lêers dui die geveerdes se stambome aan. 

Tanyane roep — hy het die trotse ouerpaar van die kampioen Mix gaan vang. Die twee steur hulle nie aan ons nie, maar koer net liefies vir mekaar.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories