HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Helpende hande maak dorp netjies


   16 March 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 55   l   38 days ago  

 

Dié groep mense, wat deel is van die DA se Women’s Network (DAWN), het ingespring om die tuin voor die munisipale gebou in Modimolle netjies te maak. Voor is raadslede Bianca Mocke en Sarna Groenewald, asook Ans de Klerk. Agter staan Hercules Louw (hoofsweep), John en Jan Mathlare, Erna Human, Helmut en Mari Lessman en Marlene van Staden (burgemeester). 


Die sypaadjies en parkies in Modimolle het weer ’n “haarsny” gehad danksy vrywilligers wat ingespring het om die lang gras te sny. 

Volgens DA-raadslid Sarna Groenewald kon die munisipaliteit nie die gras sny nie omdat van hul masjiene stukkend is. “Ons het ’n aantal instansies genader en gevra om ons te help. Ons is dankbaar vir die hulp wat hulle en inwoners gebied het om die woongebied weer netjies te kry,” het sy gesê. 

Spanne van die Kokanje-aftreeoord en Weesgerus-vakansieoord het ingespring en korte mette van die lang gras voor Bosveldsig-aftreeoord, die Boshoffstraatparkie, Hans Campherlaan en ander dele in Wyk 12 van die dorp gemaak. Johan Stephens het die gras voor Fase 3 by Bosveldsig kort gesny. 

“In Wyk 11 het ds. Wollie Wolhuter en Gerrit Bakker ons gehelp om die parke en openbare ruimtes se gras te sny. Hulle het ook die gras vir ons weggery om veldbrande te voorkom,” het Johann Abrie, raadslid vir die wyk, gesê.

Nóg ’n groep vrywilligers het vroeër vanjaar betrokke geraak by ’n projek om die dorp te verfraai. Hulle het by die munisipale gebou begin, die tuine opgeruim en die blompotte oorgeverf. 

“Ons wil ook die dorp se ingange opkikker. Ons beplan om droogtebestande plante soos vetplante te plant sodat dit ’n langtermynoplossing sal wees,” het Erna Human gesê. 

“Ons vra dat inwoners betrokke raak, al is dit deur skenkings. Vetplante, tuinklippe, die seil wat onder sulke klippe gebruik word en ander hulp sal waardeer word,” het sy gesê. Inwoners wat wil hand bysit of skenkings maak, kan vir Human bel by tel. 082 348 6925.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories