HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Waterbesparing noodsaaklik, waarsku departement


   16 March 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 73   l   39 days ago  

 

’n Watertenk wat aan ’n geut gekoppel is, verskaf water om motors mee te was, die tuin nat te lei of om toilette mee te spoel.


’n Mens kan sit en kla of jy kan ’n plan maak. 

’n Inwoner van Bosveldsig-aftreeoord in Modimolle het besluit om ’n plan (of drie) te maak om minder water te gebruik. Dié hoogliggende deel van Modimolle se krane is gereeld droog wanneer die dorp se water min is. 

Die 84-jarige inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het drie watertenks op sy erf. Twee van die watertenks vang reënwater op vir tuinmaak, motorwas en om toilette mee te spoel terwyl ’n derde watertenk, wat 2 500 liter water hou, vir huisgebruik is. Dié water ry hy met ’n waterkar aan vanaf ’n plaas buite die dorp. 

Langs ’n wasbak staan ’n plastiese koeldrankbottel. ’n Stukkie dun besproeiingspyp is deur ’n gaatjie onderin die bottel met silikon geheg. Wanneer die huismense hande wil was, druk hulle die bottel en ’n dun straaltjie water loop uit. Sodoende word water uit ’n lopende kraan wat nutteloos wegspoel, bespaar. 

Die afvalwater van die wasbak en die wasmasjien word tuin toe afgevoer deur krane wat buite op die dreinpype aangebring is. As die water baie seperig of vuil is, word die kraan na die drein toe oopgedraai, maar as dit net spoelwater is, word die kraan toegedraai en loop die water in die tuin uit. 

’n Kraan is ook buite die badkamer gekoppel sodat stortwater in ’n emmer inloop. Dit skakel die probleem uit om met ’n swaar emmer deur die huis te stap om dit buite uit te gooi. 

Volgens RandWater gebruik mense gemiddeld meer as 190 liter water per persoon per dag. Deur slim te werk kan dit verminder word na 70 liter per persoon per dag. 

’n Bad wat tot 150 mm diep vol water getap is, gebruik ongeveer 90 liter water, maar as die watervlak net 100 mm diep is, gebruik dit slegs 60 liter. 

’n Stort gebruik gewoonlik 15 liter water per minuut en mense stort gemiddeld sewe minute lank. Hulle verbruik dan 105 liter water. As die kraan kleiner oopgedraai word sodat ses liter water per minuut gebruik word en ’n mens net vier minute lank stort, gebruik ’n mens slegs 24 liter water. Die krane moet toegedraai word terwyl ’n mens was.  

’n Toilet gebruik gemiddeld 15 liter water om te spoel. Dié hoeveelheid water kan verminder word deur ’n plastiekbottel met water in die toiletbak te plaas. Spoel die toilet slegs wanneer regtig nodig. 

Die Wes-Kaapse regering het die volgende raad aan hul inwoners gegee om water te bespaar om Dag Zero te vermy. Dit kan ook handig te pas kom vir Bosvelders. 

  • Moenie wasmasjiene en skottelgoedwassers laat was as dit net half vol is nie. 
  • Gebruik gryswater in die tuin. Moenie andersins natlei nie. 
  • Plant inheemse plante wat droogtebestand is. 
  • Die beste tyd om plante water te gee is vroegoggend en laataand sodat die water nie verdamp nie. 
  • Maak lekkende krane reg. ’n Kraan wat ’n druppel per sekonde lek, mors tot 30 liter water per uur. 
  • Moenie motors was of plaveisel met munisipale water afspuit nie. 
  • Spoel toilette met gryswater.
  • Moenie swembaddens met munisipale water hervul nie.  

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories