HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Gemeenskap geskok ná speurder se dood


   16 March 2018   l   Andries van der Heyde    l   Views: 354   l   39 days ago  

 

AO Tommy van Blerk (55) is op Woensdag 7 Maart oorlede nadat hy ’n hartaanval in Winklespruit gehad het.


Die Bela-Bela-gemeenskap is geruk ná die dood van AO Tommy van Blerk (55) van die Bela-Bela-polisie. 

Van Blerk was vir bykans 37 jaar in die polisie.

Van Blerk en sy vrou, Elsabé, was verlede week met vakansie in Winklespruit, KwaZulu-Natal toe hy dood is. Volgens sy seun, Chris, het Van Blerk Woensdagaand 7 Maart ’n hartaanval gehad. 

Hy het nie voorheen hartprobleme gehad nie. Hy was egter ’n diabeet, maar het dit goed beheer, het Chris gesê.

Van Blerk is in die destydse Warmbad gebore en het in Radium grootgeword. Sy ouers het ’n slaghuis daar besit. 

Hy het aan Laerskool Lehau en Hoërskool Wagpos in Brits skoolgegaan, waarna hy by die polisiekollege in Mbombela (Nelspruit) aangesluit het.

Het het ná sy opleiding by die kollege by die polisie se dwelmburo aangesluit en daar-na by die destydse moord-en-roof-een-heid — ’n eenheid waarop hy baie trots was, het Chris gesê. 

Hy het in 1986 na Warmbad teruggekeer en by die speurtak op die dorp aangesluit. 

“My pa kon ses tale praat. Hy het altyd gespot en gesê ‘as daar ’n wag by die hek is, sal ek kan inkom’,” het Chris gesê.

Van Blerk en Elsabé is in 1987 getroud en het twee kinders.  “Hy wou aftree, maar ek dink daar was nog goed wat nie afgehandel was nie. Hy wou nog een saak afhandel. Die polisie was in my pa se bloed,” het Chris gesê. “Daar was vir hom niks so lekker as om ’n polisieman te wees nie en geregtigheid was vir hom baie belangrik.”

Die familie sal onthou hoe hy hulle van mensekennis geleer het, om te beplan vir die toekoms en om trots te wees op jou werk. 

“Ek onthou as ’n klein seuntjie moes hy soms in die aande uitgaan en dan wou ek nie by die huis bly nie. Ons het dan saam na ’n toneel gegaan en as ons teruggekeer het, het ek gevra of ons nie ’n vleisie gaan braai nie. Hy was ’n baie goeie braaier,” het Chris gesê. “Hy het elkeen van ons dan in ’n kombers toegedraai en ons het gebraai. My pa was baie betrokke in ons lewens en hy was altyd daar vir ons.” Verder onthou hulle hom as ’n terggees en grapjas wat maklik mense se vertroue gewen het.

Die Bela-Bela-polisie sal nog besluit wie Van Blerk se onafgehandelde sake verder sal hanteer. Hy was onder meer die ondersoek-beampte in die saak teen Herman van Tonder, eienaar van Mbizi Lodge & Spa, wat verdink word van die moord op sy gewese vrou. Dié saak is nog nie op verhoor nie.    

’n Emosionele kol. Lindie Marx, stasie-bevelvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê Van Blerk was een van die beste polisie-manne wat sy geken het. 

“As ek dink hoeveel mense hy al bygestaan het, sy geregtelike doodsondersoeke, selfdoodsake en mense wat dood is en hoe hy dit reggekry het om deur dit alles mens te wees ... Hy was die beste persoon om in sulke gevalle met slagoffers of familie wat iemand aan die dood afgestaan het, te werk,” het sy gesê. 

“Ons is platgeslaan by die polisiestasie. Van Blerk het nie vyande gehad nie. Dit is asof ons iemand verloor het wat absoluut onvervangbaar is. Ek weet nie hoe ons sal aangaan sonder hom nie, maar ek glo die Here sal ons die wysheid en die krag gee,” het Marx gesê.

Van Blerk se roudiens vind op Vrydag 16 Maart om 11:00 by die NG Warmbad Wes-gemeente plaas. 

Hy laat sy vrou, Elsabé, en kinders, Chris en Tania, met hul eggenote agter, asook ’n kleindogter, Nina.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories