HOOFSTORIES: •   Vlamme stuit nie bedrogondersoek   •   Inkopiesentrums nie so veilig   •   Betogings en klipgooiers hou gevaar op N1 in   •   Sydney Gregan - nie tronkstraf, vra verdediging   •   Hansies groet geliefde hoof   •   Skoolseun beseer tydens 'bakleiery'   •   Skrootwerwe in polisie se visier   •   Plaaswerkers slyp vaardighede   •   Wildehonde se gewoontes van nader bekyk   •   Bekende in wildkringe spreek jagters toe   •   Jong bulletjies wyl hul staal
 


 
 

 

Gaan waardasierol na


   13 April 2018   l   Lorrain Loots    l   Views: 42   l   13 days ago  

 

Eiendom ter illustrasie.


Heelwat Vaalwater-grondeienaars het nog nie die geleentheid gebruik om die nuwe waardasierol te besigtig nie. 

As eienaars egter die belastingimplikasie van eiendom wat verkeerd gewaardeer is, verstaan, sal hulle besef hoe belangrik dit is om die nuwe waardasierol na te gaan. 

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het al sedert die begin van Maart begin om mense op verskeie sosiale netwerke, ook in Vaalwater, in te lig en op te lei om ag te slaan op die nuwe waardasierol wat op die internet verkrygbaar is.

“Ek vind dit moeilik om met die internetopsie by die waardasierol uit te kom,” het een inwoner aan Die Pos gesê. “Ek weet nie eens hoe om die munisipale erfnommer raak te sien nie,” het ’n ander gesê. 

Die goeie nuus is dat ’n uitgedrukte kopie vanaf Woensdag 4 April by die PSG-gebou in Vaalwater beskikbaar is. Marietjie Marx, die hulpvaardige sekretaresse van die waterverbruikersvereniging in Vaalwater, help eienaars daarmee. Marx se selfoonnommer is tel. 076 189 9240.

Willem Horn (83), een van die bekommerde boere van Vaalwater wat na die inligting gekyk het, het aan Die Pos gesê dat hulle grond sowat 10 jaar gelede baie hoog waardeer is. “Die Landbou-unie het destyds om korting vir boere aansoek gedoen en die mosie is aanvaar. Die munisipaliteit het egter gesê dat ons reeds betaalde belasting nie terugbetaal kan word nie, maar dat daar maandeliks van ons krediet verhaal sal word.” 

Grondeienaars is egter met rede bekommerd oor waardasies. “Veral waar plase aan plakkerskampe grens. Ek is nie seker of dié plase eens die ou munisipale waardasie pryse sal haal nie,” het hy gesê. 

Rina Kruger, nog ’n verontwaardigde inwoner van die dorp, het aan Die Pos gesê sy voel asof niemand na haar klagtes oor die uitermate hoë waardasie op haar eiendom wil luister nie. “Dit sal baie interessant wees om te sien waarvoor my grond gewaardeer is en waarvoor die grond oorkant my, waar ’n kleuterskool bedryf word, gewaardeer is. Al wat tussen ons lê, is ’n grondpad wat soos ’n sloot lyk.” Kruger het gesê die stelsel kom vir haar uiters onregverdig voor.

Corrie Schalkwyk, bestuurder van 2018 se waardasieprojek, het aan Die Pos verduidelik dat die ou munisipale waardasies baie ver ondergewaardeer is. Die nuwe waardasierol is op markpryse geskoei. “Ons is aangestel om onder meer probleme en navrae te hanteer. Die wet se ‘beswaaraantekenproses’ is vanaf 1 Maart tot 30 April in werking. Die nuwe eiendomsbelasting is van Sondag 1 Julie van krag.

Beswaar kan op die volgende manier aangeteken word: Die erf- of grondnommer is in die middel van baie nommers op die munisipale rekening te vind, byvoorbeeld 0865 000000 386 000000 0000. Die erfnommer sal in hierdie geval 386 wees. Die nodige vorm is op die internet verkrygbaar (deur middel van Google). Die beswaar moet per geregistreerde pos gestuur word en nie per e-pos of faks nie. 

Schalkwyk het gesê: “Die geleentheid is daar tot Maandag, 30 April.” ’n Waardeerder sal daarna uitslag gee. Die partye moet dan bymekaar kom om uit te klaar of die markwaarde korrek is of nie.”

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories