HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Bly wég van korrupsie, waarsku Gerrie Nel


   13 April 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 536   l   10 days ago  

 

“Sê nee vir korrupsie — of dit miljoene rande behels of die omkoop van ’n verkeersman. Moenie om braaivleisvure daaroor spog nie, want dit is niks beter as Nkandla nie.” Só het die bekende teenkorrupsie-kampvegter, adv. Gerrie Nel, die afgelope week in Modimolle tydens ’n teenkorrupsiekonferensie gesê. “Korrupsie is iets wat ’n gemeenskap binnedring en alles wat gedoen is, ongedaan maak.” Foto: Herman Steyn


Sê “nee” vir korrupsie — of dit miljoene rande behels of die omkoop van ’n verkeersman is. 

“Moenie om braaivleisvure daaroor spog nie, want dit is niks beter as Nkandla nie!” 

Die bekende teenkorrupsiekampvegter, adv. Gerrie Nel, het ’n AfriForum Knak Korrupsie-konferensie op Dinsdag 10 April in Modimolle aangebied.

Nel het die bynaam “Bulldog” verwerf vir sy hardnekkige vasbyt en deursettingsvermoë in die hof met taai hoë profielsake soos die moordsaak teen Oscar Pistorius, die korrupsiesaak teen die voormalige polisiekommissaris en Interpol-president, Jackie Selebi, en as junior aanklaer in die saak teen Clive Derby-Lewis en Janusz Waluœ vir die moord op Chris Hani. 

Hy het vroeg in 2017 die Nasionale Vervolgingsgesag verlaat en by AfriForum se teenkorrupsie-eenheid aangesluit. 

Die ware helde is nie die bekende name wat almal ken nie; dit is die onbekende fluitjieblasers, het Nel aan die gehoor gesê. “Ek het ’n passie vir fluitjieblasers wat opstaan ten spyte van groot teen-stand.” Nel het praktiese voorbeelde uit onlangse hofsake uitgelig waar tegnologie ’n rol gespeel het. 

Die ontwikkeling van tegnologie het ’n impak op die ondersoek van misdaad, volgens Nel. In die ondersoek op die moord van Chanelle Henning, is die verdagtes geïmpliseer deur hul selfone se ligging sowel as deur foto’s wat met een van die selfone geneem is. 

“Die wêreld verander en daar moet anders na misdaad gekyk word. Uber is die grootste huurmotormaatskappy sonder dat hulle ’n enkele huurmotor besit. Dieselfde geld vir Airbnb, wat nie ’n hotel besit nie en Bitcoin, wat ’n internasionale geldeenheid is.”

Nel het gesê mense het dikwels ’n wanbegrip van terme soos bedrog en korrupsie. Iemand is nie korrup net omdat hy nie sy werk doen nie. “Bedrog is ’n opsetlike wanvoorstelling wat werklike benadeling tot gevolg het wat ’n potensiële nadeel vir ander inhou.”

Hy het gesê die misdaad omkopery is vervang deur die term korrupsie wat ’n veel wyer definisie het. 

“Korrupsie is iets wat ’n gemeenskap infiltreer en alles wat gedoen is, ongedaan maak. Dit kan jou direk raak,” het hy gesê. Daardie ingenieur, trokbestuurder of dokter wat sy kwalifikasie wederregtelik bekom het, kan jou lewe in gevaar stel, was sy waarskuwing. 

“Met korrupsie is die aanvaarder en gewer albei ewe skuldig,” het hy gewaarsku. 

Hy het die saak teen Selebi as voorbeeld gebruik. “Ons sien dikwels alge-hele ontkenning en bewerings van kwaadwillige vervolging van dié wat aangekla word in hierdie soort sake,” het hy gesê. Die ondersoeker word ook dikwels ondersoek in ’n poging om hom te diskrediteer. 

“’n Mens moet kan bewys dat iets met ’n korrupte bedoeling gegee is. Die blote oorhandiging van ’n voordeel maak ’n mens reeds skuldig aan korrupsie, al het jy niks in ruil daarvoor gedoen nie.” Hy het plaaslike sakelui, asook werknemers, daarteen gewaarsku om geskenke te ontvang waarvoor iemand gunste in ruil kan verwag. “Daar is ’n fyn lyn tussen geskenke en korrupsie vir gunste.” Net soos met seksuele sake, sien hulle dat daar ’n aanloop is waarin die ontvanger “sag” gemaak word om geskenke te ontvang. Dit lyk aanvanklik onskuldig, het Nel gesê.

Hy het praktiese wenke vir sakelui gehad. Dié tekens kan ’n aanduiding wees dat ’n werknemer by korrupsie betrokke kan wees: hoë persoonlike skuld, ’n dobbelgewoonte, onwilligheid om verlof te neem omdat hul aksies aan die lig sal kom, iemand wat bo hul inkomste leef of onverklaarbare rykdom het, ’n werknemer wat altyd laat werk, iemand wat ’n noue verhouding met verskaffers of kontrakteurs het, verskaffers dring daarop aan om slegs met ’n spesifieke werknemer sake te doen en die weiering om bevorder of verplaas te word. 

Diegene wat korrupsie wil bewys, moet die getuienis wat hulle insamel, bewaar. Stoor selfoonboodskappe en e-posse, sorg dat daar ’n aantal getuies teenwoordig is en hou boek van die vordering wat gemaak word. Hy raai mense aan om ’n aaneenlopende notaboek eerder as ’n dagboek te hou van gebeure. Sodoende kan niemand sê dat inligting ná die tyd bygevoeg is nie. 

“Jy kan kies by wie jy koop. Ondersteun eerder die onderneming wat hulle nie skuldig maak aan korrupsie nie,” het hy aangemoedig. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories