HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

LUR positief oor Limpopo se ekonomie


   20 April 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 147   l   31 days ago  

 


Die man aan die stuur van Limpopo se beursie, Rob Tooley, LUR vir finansies, het sakelui verlede week in Modimolle toegespreek. 

Tooley was op Donderdag 12 April ’n spreker tydens die Waterberg-sakekamer se maandelikse byeenkoms. Sy toespraak het meestal gefokus op die belangrikheid om nasionale skuld te verminder om die eko-nomie te versterk. 

Volgens hom is van die grootste risiko’s wat die regering in die gesig staar klimaats-veranderinge. Hy het na die verwoestende uitwerking van die droogte in die Wes-Kaap verwys en ook na kuberkrakers wat inligting van regeringsdatabasisse steel.

Tooley het na die mynbedrywighede in die Nylsvley-omgewing verwys en gesê daar moet gewaak word teen besoedeling. “Die myne is net ’n korttermynoplossing,” het hy gesê.

Belegging

Die LUR het gesê dat ’n lisensie bekom is vir ’n spesiale ekonomiese sone in Musina en dat Chinese beleggers beplan om $4 miljard daar te belê. 

“Ons het infrastruktuur en water nodig wat ons moontlik van Zimbabwe af sal kan ver-kry.” 

Oor die hoë werkloosheidsyfer in die pro-vinsie het hy gesê landbou en toerisme het groot moontlikhede vir werkskepping. “Altesame 8,3 miljoen toeriste het Limpopo in 2016 besoek. Ons wil hê dit moet in die volgende jaar met 300 000 groei. Ons het gesien dat besoekers se verblyf in die provinsie van 5-9 dae verleng het. Dit het ’n groot impak op die hoeveelheid geld wat hulle bestee. Elke twee toeriste skep werk vir drie werknemers, wat beteken dat ons vir talle halfgeskoolde werkers werk kan skep,” het hy gesê.

Hy het benadruk dat landbou, veral subtropiese vrugte soos sitrus en avokadopere, die grootste dryfveer van die ekonomie in die provinsie is. 

Oor munisipaliteite het Tooley gesê daar heers groot kommer oor die bestuur van die 25 munisipaliteite in die provinsie. Hy het genoem dat Thabazimbi weer op die been kom ná ses tot sewe maande onder sakeredding, maar dat agterstallige Eskom-rekeninge ook probleme veroorsaak in munisipaliteite soos Lephalale en Musina. 

“Dit is ’n groot probleem in die munisipale domein as administrasie en politiek meng. Dit skep ’n giftige situasie. Kyk na Mokopane — dit moes reeds ’n stad gewees het, maar politiekery hou die proses terug.” 

Tooley het nie uitgebrei oor munisipale kwessies wat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit raak nie. 

Mynbou

Yusuf Ravat van Anglo American Moga-lakwena het met sakelui gepraat oor geleenthede wat mynbou vir plaaslike ondernemings skep. Die wêreld se grootste oopgroefplatinummyn is in Mokopane. “Die hoeveelheid geld wat ons plaaslik bestee om gemeenskappe te help ontwikkel, vermeerder elke jaar,” het hy gesê. “’n Groot deel van die produkte wat ons gebruik moet plaaslik verkry word, maar dit kan dikwels nie verskaf word nie,” het hy gesê. Hy het sakelui aangemoedig om saam met plaaslike gemeenskappe te werk en verskaffers aan die myn te word. 

Eskom

Wiets Botes, voorsitter van die sake-kamer, het gesê onderhandelinge met Eskom is op ’n sensitiewe stadium, maar dat daar vandeesweek hopelik ’n aan-duiding sal wees wat gaan gebeur. Eskom dreig al maande lank om die kragtoevoer na Modimolle, Mookgophong en Vaalwater te sny weens wanbetaling. Die sakekamer het ’n toekenning aan die plaaslike prokureur, Gerhardt Breytenbach, oorhandig vir die lang ure wat hy en ’n span ander regslui aan die aansoek om die afsluiting te keer bestee het. Botes het ook vir Marlene van Staden, burgemeester, bedank vir haar bydrae om die krisis af te weer. 

“Ons gaan nie ophou baklei totdat hierdie dorp reggeruk is nie,” het Botes laat hoor. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories