HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Staatmaker en geliefde skoolhoof oorlede


   20 April 2018   l   Andries van der Heyde    l   Views: 1253   l   31 days ago  

 

Hektor van Aardt (59), geliefde skoolhoof van Lord Milner Primary School in Settlers is verlede week in Pretoria weens longprobleme oorlede.


Hektor van Aardt (59), skoolhoof van Lord Milner Primary School in Settlers, is op Donderdag 12 April weens longprobleme in ’n Pretoria-hospitaal oorlede.

Van Aardt se skielike dood het ’n skokgolf deur die gemeenskap veroorsaak. Hy was ’n baie geliefde en gerespekteerde mens in die omgewing.

Volgens sy familie het hy die afgelope paar jaar baie gesondheidsbewus geraak en heelwat gewig verloor, maar hy het steeds bloeddrukmedikasie geneem. 

Hy het ’n operasie in Pretoria ondergaan, waarna hy wonderbaarlik ná sewe dae in die intensiewesorgeenheid herstel het, het ’n familielid gesê. 

Hy was egter skaars tuis toe hy kompli-kasies ervaar het en weer in Pretoria opgeneem is, maar hy is dieselfde dag oorlede. 

Sy familie was onderweg om hom te besoek, maar is op pad van sy dood in kennis gestel. Hy sou op Woensdag 25 April sy 60ste verjaardag gevier het.

Van Aardt was die jongste van drie broers en het in Redcliffe Kwekwe in Zimbabwe grootgeword. 

Die gesin het in die sestigerjare na Suid-Afrika verhuis en Van Aardt het aan Pretoria Boys High School gematri-kuleer.

Hy het ná vier jaar sy onderwysdiplo-ma aan die destydse Normaal Kollege voltooi met hoofvakke in Engels, Zoeloe, drama en Bybelkunde.

As student was hy vier jaar lank lid van die ambassadeurskoor en deel van die bestuur daarvan.

Nadat hy twee jaar diensplig gedoen het, het hy by Lord Milner School as ’n gr.4-onderwyser begin skoolhou. Hy het later departementshoof, adjunkhoof en toe skoolhoof geword. 

Hy was 18 jaar lank skoolhoof.

Van Aardt het sy vrou, Lana, tydens sy tyd in die ambassadeurskoor ontmoet, waar hulle onder meer na Europa en Bethlehem, Israel — wat ’n hoogtepunt in hul Christelike lewe was — getoer het. 

Hulle is in 1982 getroud en het drie kinders.

Volgens die familie het Van Aardt sy lewe aan ander gewy, ongeag hul ouderdom, geslag of ras. 

Hy het mense met respek behandel en mense wat gewillig was om hard te werk, streng en doelgerig ondersteun.

 “Die werklikheid van sy afsterwe het nog nie ingesink nie. Dit is asof hy netnou singend, met hande wat klap en met sy hond die vertrek gaan binnestap. Hy was lief vir sing, drama, poësie en lees.”

Sy roudiens vind op Donderdag 19 April om 12:00 by die NG Moeder-gemeente in Bela-Bela plaas. 

Hy laat sy vrou, Lana, sy seuns, Wikus en Bati, en dogter, Madie Horn, agter, asook sy skoonseun Stefan Horn en kleinseuns Rohan Marais, Reuben Cawood, Rikus van Aardt en André Horn.

Die familie wil graag die gemeenskap, die Lord Milner School-personeel en in besonder vir Ettiene Burger, Alta en Charles Hitchcock, Ronel en Willie Swart en die kombuisspan, asook die departementele staatmakers en hul personeel, bedank vir hul oorvloeiende empatie, simpatie en ondersteuning ty-dens hierdie moeilike tyd.

Dit word opreg waardeer. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories