HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

Storm rig groot skade aan


   20 April 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 528   l   31 days ago  

 

Derduisende rande se skade is aan die paaie in Phagameng aangerig. Plaveistene het weggespoel en ’n sinkgat het ook ontstaan. Sowat 500 huisgesinne is deur die storm, wat van die sinkhuise omgewaai of beskadig het, geraak. 


’n Hewige storm het op Woensdag 11 April derduisende rande se skade in Modimolle aangerig. 

Swaar onweerswolke het vanaf Bela-Bela se kant af aangepak voordat die storm net voor 14:00 losgebars het. Die storm, wat met sterk wind en plek-plek fyn hael gepaard gegaan het, het nie lank geduur nie. 

Sommige inwoners in die omgewing van die watertoring en Koro Creek-gholflandgoed het 46 mm gemeet terwyl Phagameng en omliggende dele soveel as 80 mm gemeet het.

Die wind het tientalle bome omgewaai en groot takke afgebreek wat paaie versper het. ’n Kragdraad in die nywerheidsgebied het ook omgewaai. Die wyke wat die ergste geraak is, is wyke 6, 8, 11 en 13. 

Die Phagameng-woonbuurt het die storm die ergste gevoel. “Derduisende rande se skade is aan die paaie aangerig,” het Marlene van Staden, burgemeester, gesê. “Die paaie in Phagameng se plaveisel het weggespoel, stormwaterpype het toegespoel en groot sinkgate het ontstaan. Naby die treinspoor was daar ’n grondstorting.” 

Sowat 500 huisgesinne is deur die storm geraak nadat die water hul sinkhuise beskadig of omgewaai het. 

Die krag was vir sowat ’n uur in die grootste deel van die dorp af voordat dit weer herstel is. 

Die munisipaliteit het volgens Van Staden hulp van oraloor ingeroep. “Dit gaan baie geld kos om ons paaie reg te kry, maar veral om ons stormwaterhantering só te kry dat hierdie nie weer gebeur nie,” het Van Staden gesê.

Volgens haar het hulle verlede week die provinsiale departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) genader om hulp. Dié het op hul beurt hul rampbestuurspan gestuur om die probleem te ontleed. “Ek het ’n brief aan die LUR vir CoGHSTA geskryf en gevra vir rampbefondsing,” het Van Staden gesê.

 Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het kospakkies aan sowat 500 gesinne verskaf. Hulp is ook, volgens Van Staden, van die distriksmunisipaliteit en Gift of the Givers aangevra. 

Rufus Mahoro, die ANC se wyksraadslid vir wyk 8, het by navraag gesê van die informele nedersettings se sinkhuise is deur die vloed weggevee. “Van die HOP-huise was ook onder water. Die paaie is in ’n verskriklike toestand,” het hy gesê. 

“As ANC-hoofsweep het ek die speaker versoek dat hy ’n spesiale raadsvergadering byeen moet roep om Modimolle as rampgebied te verklaar. Ek het nog nie ’n antwoord op my versoek ontvang nie,” het hy gesê.

Hoewel inwoners gehoop het dat die hewige reënbui goeie nuus vir die leë dorpsdam sou beteken, het die dam slegs 5 mm reën ontvang, het inwoners wat daarnaby woon gesê. (Foto’s op bl. 2.)

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories