HOOFSTORIES: •   Verdagtes in Coertze-aanval verskyn in hof   •   Prokureur vir sewe jaar tronk toe   •   Tronklewe is 'baie erg'   •   Verdagte in Peterson-moordsaak kry dalk borgtog   •   Plaaswerkers beroof; vrou verkrag   •   School learner found dead near mall   •   Nuwe pyplyn spoedig vervang ná lekkasie   •   Brief: Genoeg is genoeg!   •   Klag van brandstigting ondersoek by Waterfront   •   Kuns help kinders by skool   •   Ervaar die brul van enjins by Rally-kampioenskappe
 

 
 

 

DA wil weet oor plaaslike hospitale


   04 May 2018   l   Andries van der Heyde    l   Views: 55   l   17 days ago  

 

Foto ter illustrasie.


Die DA het in Februarie vrae in die parlement aan Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gerig rakende die permanente aanstelling van hoof- uitvoerende beamptes by plaaslike hospitale.

Desirée van der Walt, LP en DA skadu-minister van die portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie, het gevra of die poste van die hoof- uitvoerende beamptes by die Warmbad-hospitaal, die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle, Thabazimbi-hospitaal en Ellisras-hospitaal tans gevul is.

Sy het ook gevra of daar mense is wat tans waarneem en gekwalifiseer is vir dié poste.

In reaksie hierop het die minister se kantoor aangedui dat die FH Odendaal sedert 31 Maart 2013 sonder ’n permanente hoof- uitvoerende beampte is.

Die Warmbad-hospitaal is reeds sedert 1 November 2017 sonder ’n hoof- uitvoerende beampte.

In Thabazimbi is die pos reeds permanent gevul en die kandidaat het ’n nagraadse diploma in gesondheidsbestuur en ook agtergrond as ’n hoof- uitvoerende beampte in die staatsdiens. 

In Lephalale is die pos sedert 13 September 2016 vakant.

Die departement voer aan die rede waarom die poste nie permanent gevul is nie, is omdat die departement geruime tyd besig is om die hospitale te herorganiseer en te herstruktureer.

Die antwoorde het verder gelui dat die poste in Bela-Bela, Modimolle en Lephalale in die derde termyn van die 2018/2019-boekjaar gevul sal word.

Die huidige waarnemende beampte in Bela-Bela, wat ’n graad in aptekerswese het, is vanaf Desember vir ses maande aangestel totdat die pos gevul word, het die antwoorde gelui.

Die beampte in Modimolle, wie se kontrak hernubaar is, is sedert Oktober 2016 die waarnemende beampte. Inligting oor die beampte in Lephalale is dieselfde as dié van Modimolle.

Derick Kganyago, woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo, het by navraag aan Die Pos gesê daar word geen beperkings op hospitale geplaas oor wanneer ’n waarnemende beampte aangestel word nie. Hul rol as waarnemende beampte sal ook nie die hospitaal se daaglikse roetine negatief beïnvloed nie.

“Waarnemende beamptes het, totdat permanente hoofde aangestel word, dieselfde mag as permanente bestuurders. Ons sal nie mense aanstel tensy ons weet dat hulle beslis oor die nodige kwalifikasies beskik nie.”

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories