HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Entrepreneur sit kos op sy eie én ander se tafels


   08 September 2017   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 44   l   2 months ago  

 

Wat begin het met ’n paar vetkoeke uit moedeloosheid, het gegroei tot ’n onderneming.  Werner du Plessis het by Die Pos ’n draai gemaak net voor hy middagetes begin aflaai het — biltongslaai en gebakte aartappels gevul met ham en kaas.


Dit is ’n ongemaklike feit wat baie vroue weet — as ’n man agter die kospotte inskuif kan jy jou dikwels regmaak vir besonder lekker eet. 

En so is dit ook met Werner du Plessis, wat meer as 70 maaltye op ’n slag in sy kombuis optower en vir lekkerbekkiges op Modimolle aflewer. As hy eers begin spyskaart praat, kan ’n mens nie help om gou af te loer na jou horlosie om te kyk hoe lank dit is voordat jy kan wegval aan middagete nie. 

Kosmaak was nie deel van Du Plessis se plan nie, maar is uit nood gebore. Hy en sy gesin het in Desember verlede jaar van Pretoria verhuis nadat hy ’n finansiële pos op Modimolle aanvaar het. Die nuwe werkgewer het egter laat weet dat die pos nie gerealiseer het nie en die gesin moes inderhaas ’n ander plan maak. “Ons was so opgewonde om die stad vir die platteland te verruil en wou nie wéér ons kinders laat verhuis nie,” het Du Plessis gesê. Hy kon egter nie werk op die dorp kry nie.

“Ek het eendag uit moedeloosheid vir my vrou gesê sy moet maalvleis uithaal, want ek gaan vetkoekdeeg knie en kyk of ek vetkoeke in die nywerheidsgebied kan verkoop.” Hy lag. “Ons het op Facebook-groepe geadverteer en ek het skaars daar aangekom toe stroom die bestellings in. Ek was so dankbaar. Ons het later nóg etes bygevoeg totdat ons nou op die punt is dat ons elke dag etes verskaf — ook aan kleuterskole en nasorgskole.” 

Dié boerseunkok — netjies uitgevat in ’n kakiebroek en sjefbaadjie — sê hy het altyd van kosmaak gehou, maar sy vrou, Adri, is die eintlike kok in die huis was. Sy het hom touwys gemaak in die kombuis. 

Terwyl Du Plessis sy storie vertel, walm die water-my-mond-nou-reuke van die kaas- en hamgevulde gebakte aartappel op. Ja, sê hy, daar is mense wat gevra het hulle wil lekker eet, maar gewig verloor. Hulle het koppe bymekaar gesit en sit ook nou gesonder weergawes voor soos skorsies gevul met spinasie en fetakaas of maalvleis. 

“Dit is so ’n lekker gevoel as iemand kom vertel dat hy gewig verloor én lekker geëet het,” sê Du Plessis. 

Hulle bied ook nou op versoek vir diegene wat vetjies wil afskud die 28-dae-dieët se kos aan. Die etes wat aan die einde van die dag oorbly, word aan behoeftige gesinne geskenk. 

 

Een van sy gewildste geregte is frikkadelle. Hy deel graag sy resep:

 

Bestanddele:

  • 500g maalvleis
  • 1 eetlepel asyn
  • 1 of 2 eiers
  • 1 dik sny brood waarvan die korsies afgesny is, in melk geweek
  • 1 teelepel bruinsuiker
  • Sout, peper en neutmuskaat na smaak
  • 1 fyngekapte ui
  • 2 teelepels kerriepoeier

Metode:

Meng al die bestanddele goed saam. 

Rol die vleis in handpalm-grootte balletjies en plaas dit op ’n bakplaat. 

Bak dit teen 180°C vir ongeveer 30 tot 45 minute of tot goudbruin en deurgaar. Bedien met rys of kapokaartappels. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories