HOOFSTORIES: •   Ruk geldsake reg, sê ouditkomitee   •   Werkers staak steeds   •   Twee raadslede in Bela-Bela-hof   •   Inwoner aangerand terwyl ander toekyk   •   Twee vas ná weduwee besteel word   •   Jong vrou sterf skielik   •   Man sterf ná motor teen brug bots   •   DA rig vrae rondom polisiestasies   •   Troeteldiere getraumatiseer deur fees-vuurwerke   •   Brief: Noem my gerus maar oom   •   Pre-holiday makeover for Bela-Bela   •   Geloftefeesvieringe gehou in die Waterberge   •   Food: Cook a Flemish stew   •   Wees versigtig vir slange   •   Goeie reën lei tot opheffing van brandverbod   •   Kranskopfees (vir eers) van die baan
 

 
 

 

70 en lewendig by Hoërskool Warmbad


   04 August 2017   l   Andries van der Heyde    l   Views: 122   l   4 months ago  

 

Hoërskool Warmbad het tydens die eerste week van die derde skoolkwartaal hul 70ste bestaansjaar gevier. Op die foto is oudleerder, Jan Das Prinsloo, wat die leerders gehelp het om bome te plant. Die skool het hom ook met ’n spesiale baadjie vereer.


“Dit was goed, dit was mooi en dit was reg.”

Só het Anette Nel, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Warmbad, tevrede gesê nadat die skool die afgelope week sy 70ste bestaansjaar met verskillende aktiwiteite gevier het.

Die week is met ’n besoek van die sanger Jo Black afgeskop wat die leerders toegespreek het oor hoe om beter jongmense te wees, trots te wees op hul gawes en nie negati-witeit uit te straal nie.

Die leerders se toegang tot Black se optrede was blikkiekos. Al die blikkieskos is aan die Stadspoort-projek geskenk om dit aan behoeftige mense te voorsien.

Die fees het afgeskop toe Dian Blignaut, voorsitter van die beheerliggaam, die feesrede tydens saalopening gelees en die Warrie-fakkel aan die brand gesteek het. Die fakkel, wat ook op die skoolwapen is, het vir die duur van die fees gebrand.

Die skool se eerste sportspanne is op die Dinsdag met koffie en kolwyntjies bederf, en die hele skool kon in hul sportklere skool toe kom.

Die leerders het die Woensdag, wat omgewingsdag was, 16 bome geplant. Die boom van die jaar, die blinkblaar wag-’n-bietjie-boom, is ook op die skoolterrein geplant.

Afgetrede oudleerder van Hoërskool Warmbad, Jan Das Prinsloo, het die leerders gehelp om bome te plant en die skool het hom met ’n spesiale Warrie-kleurbaadjie vereer.

Elke graad het ook ’n tydkapsule met verskillende items in begrawe. Die kapsules sal eers opgegrawe word wanneer die betrokke graad hul 10 jaar reünie vier.

Tussen die Donderdag en Vrydag is almal met lekker koek, ’n braai, ’n “Flower power”-sokkie, ’n uitstappie na Forever Resorts en ’n talentkonsert bederf. Musiekonderwyser en nou baie bekende sanger, Johan “Fatman” Brümmer, wat onlangs op die M-Net-program, The Voice, te sien was, het ook sy talent tydens die talentopvoering gedeel.

Sportwedstryde, ’n pretloop en ’n potjiekoskompetisie het die Saterdag plaasgevind. 

Oudhoërskoolleerders het die huidige leerders in rugby-, hokkie- en netbalwedstryde die stryd aangesê. Die pretloop — 5 km en 10 km — is met die hulp van die Warmbad-marathonklub aangebied. 

Die akteur Ben Kruger was een van die beoordelaars van die potjiekoskompetisie en moes uit die 17 potjies ’n wenner help kies. Saam met hom op sy paneel was ds. Danie Nelson, Sue Kotze en Wynand Benadie.

Die Live Wire-span het die eerste prys gewen, gevolg deur Hoërskool Warmbad se Stywe lyne-span en die Toyota-span het derde geëindig. Kruger het getekende kookboeke aan die wenners oorhandig.

Lelanie van Driel is aangewys as die opkomende “potjiekos ghoe-roe”, nadat sy met krokodilvleis ’n potjie aanmekaar geslaan het. Die pryswenners het kontantpryse ontvang, maar hulle het dit aan die skool geskenk.

Die dag is later met ’n mandjiedans afgesluit. 

Die Warrie-fakkel is amptelik op Sondagoggend ná die erediens in die saal, uitgedoof om die fees af te sluit.

Nel het gesê die week van feesvieringe was nie om geld te maak nie, maar om die beeld van die skool te bou.

“Ons gaan aanhou om op dié positiewe noot voort te bou, want ons is ’n goeie skool. Ek is opgewonde oor waarheen die skool op pad is. Ons is tans op ’n goeie plek en die mense op die dorp is opgewonde oor ’n skool waarop hulle trots kan wees,” het Nel gesê.

Nel het elkeen wat ’n bydrae tot die sukses van die fees gelewer het, bedank.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       

 

NEEM ASSEBLIEF KENNIS:

Die Pos se kantore sluit op Vrydag, 15 Desember 2017 en heropen weer op Maandag, 8 Januarie 2018.

GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOED VIR 2018 WORD AL ONS LESERS TOEGEWENS.


Ander stories