HOOFSTORIES: •   Inwoners vies oor vullis in veld   •   Waterkrisis dreig op Mookgophong   •   Polisievrou beseer in ongeluk   •   Groot skade by onderneming ná brand   •   Vroue byna op trein wat bots   •   Hou diere koel op warm dae   •   Unieke skaapras onder die hamer   •   Nuwe baadjie vir begraafplaas   •   Korrupte polisielede in hegtenis   •   Voer op trok vat vlam   •   Leiers reg vir uitdagings
 

 
 

 

Nylie-matrieks pluk vrugte van harde werk


   12 January 2018   l   Ronél van Jaarsveld    l   Views: 131   l   10 days ago  

 

Lisa Potgieter het drie onderskeidings behaal en gaan onderwys aan die Noordwes-Universiteit studeer. Carla van Loggerenberg het ook drie onderskeidings behaal. Sy gaan B.Com Ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer. Foto: Herman Steyn


Ure se swoeg en sweet by die lessenaar het vir talle leerders van Hoërskool Nylstroom vrugte afgewerp. 

Leerders het die uitslae op Vrydag, 5 Januarie, met groot afwagting ingewag. 

Die Nylies se toppresteerder is Lukas van der Merwe wat sewe onderskeidings en ’n gemiddeld van 87,14% behaal het. 

Hy het onderskeidings verwerf in Afrikaans, Engels, fisiese wetenskap, wiskunde, lewenswetenskap, inligtingstegnologie en lewensoriëntering. 

Hy gaan vanjaar elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. 

Nets Turvey het drie onderskeidings (lewenswetenskap, rekeningkunde en rekenaar-toepassingstegnologie) behaal. Sy gemiddeld is 77,43%.  

Hy het ook drie B-simbole behaal. 

Hy gaan vanjaar B.Com (Rek) aan die Universiteit van Pretoria studeer. 

Lisa Potgieter het ook drie onderskeidings in lewenswetenskap, besigheidstudies en toerisme behaal en nog twee B-simbole vir ander vakke. Haar gemiddeld is 76,43%. Lisa gaan onderwys aan die Noordwes-Universiteit studeer. 

Carla van Loggerenberg spog ook met drie onderskeidings en twee B-simbole. Haar gemiddeld is 75% en sy gaan B.Com Ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer. 

Kgomo Thoriso het twee A-simbole en drie B-simbole tydens die matriekeksamen behaal. 

Volgens die waarnemende skoolhoof, Isak Enslin, het 2017 se matriekgroep altesaam 45 vakonderskeidings en 108 B-simbole behaal. “Verskeie leerders het aansoek gedoen dat van hul vraestelle weer nagesien word in die hoop dat hul B-simbole na onderskeidings kan verander,” het hy gesê. 

Die skool se slaagsyfer is 96,82%. Daar het 126 leerders eksamen geskryf, waarvan 122 geslaag het. Altesame 54 leerders, oftewel 44,26%, het universiteitstoelating gekry en 63 leerders (51,63%) het toelating tot diplomastudies verkry. 

“Ek is trots op die skool se uitslae, veral in die lig daarvan dat die nuwe KABV (CAPS)-sillabus nou reeds ten volle in al die eksamenvraestelle geassesseer word. Die Engels-medium leerders skryf in ’n taal wat nie hul moedertaal is nie en die vakterminologie bly dus ’n uitdaging. Die slaagvereiste vir Engels Huistaal is 50%. Die kombinasie van wiskunde en fisiese wetenskap verg ekstra vasbyt en deursettingsvermoë,” het Enslin gesê. 

Die nuwe jaar bring ook vernuwing vir dié hoërskool mee. ’n Kortlys van kandidate vir die pos as skoolhoof is reeds saamgestel en die onderhoude vind op Maandag, 15 Januarie plaas, het Enslin, wat sedert 2016 as skoolhoof waarneem, gesê.

 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories