HOOFSTORIES: •   Ons het die gees ja man ja!   •   Mookgophong dae lank sonder water   •   Varke op vragmotor in vlammehel   •   Kind (13) al 30 dae weg   •   Vyf vas ná plaasaanval   •   Ongeluk nadat agent agter stuur flou word   •   Dorp op dieselfde pad as Kaap   •   Woede oor beskuldiging op Facebook   •   Renoster het nie 'aangeval'   •   Riders take on 1162km for disadvantaged schools   •   Miljoendollarduif mik vir Verenigde State   •   Droogte kniehalter Bosveldmyl
 

 
 

 

Süllwald berei voor vir seisoen ná aanval


   09 February 2018   l   Andries van der Heyde    l   Views: 107   l   14 days ago  

 

Wian Süllwald het ’n traumatiese ondervinding beleef, maar hy sien uit na die Gold Coast Statebondspele wat later vanjaar in Australië plaasvind.


Die mans wat verbind word met die aanval op Wian Süllwald, voormalige junior wêreld driekampkampioen, en sy vriende, het vandeesweek vlugtig in die landdroshof op Bela-Bela verskyn. 

Süllwald, wat tans voorberei vir sy tweede Gold Coast Statebondspele, en sy twee vriende, Dylan Nortje, saam met wie hy gereeld oefen, en Jonas Schomberg, ’n Duitse driekampatleet, is op Sondag 26 November op Süllwald se ouers se plaas buite Bela-Bela deur gewapende rowers aangehou. 

Süllwald het ná die aanval vertel hy het die rowers na die kluis in die huis geneem, waarna hulle hom en sy vriende vasgebind en beveel het om op die grond te lê. 

Een van die rowers het vermoedelik gedink dat daar nog ’n kluis in die huis was en het sy handwapen op Süllwald gerig.

“Ek het gehoor hoe hy die wapen oorhaal en ek het enige oomblik verwag dat hy die sneller gaan trek. Hy het gedreig om my te skiet, maar ek het vir hom gesê as hy dit wil doen, moet hy my in die oë kyk,” het Süllwald gesê. “Ek het vrede gemaak met wat kan gebeur, maar dit het my hartseer gemaak omdat daar nog soveel is wat ek wou bereik.”

Sy grootste vrees was dat sy ouers, Manfred en Ursula, wat nie op daardie stadium by die huis was nie, daar sou opdaag. 

Sy oom, Etienne Süllwald, het die rowers gewaar en hulle het op die vlug geslaan waarna Etienne en Manfred die rowers agterna gesit het. Die verdagtes het tydens die jaagtog op die twee broers losgebrand, maar gelukkig is niemand beseer nie. 

Die rowers is binne minute deur lede van die RTL-buurtwag en boere aangekeer.

Andries Ramakgoakgoa, Henry Bahula en Steven Sibuyi, drie van die verdagtes, verskyn op aanklagte van poging tot moord, huisroof en die besit van gesteelde eiendom in die hof. Masutaa Baldwin Lebepe en Modire Wilky Modisane, twee ander verdagtes wat met die voorval verbind word, is uit op borgtog. Die saak is uitgestel na Woensdag 14 Februarie vir die beskuldigdes wat in aanhouding is, se borgtogaansoek aangesien daar nuwe getuies in die saak is. Ramakgoakgoa, Bahula en Sibuyi is steeds in aanhouding.

Süllwald het gesê die voorval het sy uitkyk oor die lewe verander. Hy word soms angstig en aggressief weens die gebeure.

“My persepsie oor wedlope het ook verander. Ek het in die verlede paniekerig geraak, maar ek dink nie dit sal meer gebeur nie. Daar is niks méér traumaties as wat ek in Desember deurgemaak het nie,” het Süllwald gesê. “Ek besef hoe gelukkig ek was en gaan nie weer spyt wees oor enigiets nie. As ek ’n roof kan oorleef, kan ek enigiets oorwin.”

Sy hand is tydens die aanval beseer, maar dit het goed herstel. Sy huidige doel is om ’n medalje by die Statebondspele te wen, om onder die top 10 atlete by die Wêreldreeks te eindig en om bo-aan die ranglys te kom om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Die Statebondspele vind aan die begin van April plaas en Süllwald gaan daar saam met ander top Suid-Afrikaanse atlete soos Richard Murray, Henri Schoeman, Gillian Sanders en Simone Ackermann meeding. Süllwald het gesê hy beplan om op Sondag 18 Maart vir ’n opwarmingswedloop na Nieu-Seeland te vlieg, waarna hy na Australië sal vertrek.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories