HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Atleet wil vir Olimpiese Spele kwalifiseer


   06 April 2018   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 124   l   17 days ago  

 

Anneri Gravett, ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, met haar bronsmedalje wat sy in sewekamp tydens die Atletiek Suid-Afrika kampioenskap in Pretoria verwerf het.


Sport is Anneri Gravett, ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, se passie. 

Sy het tydens die afgelope Atletiek Suid-Afrika (ASA) kampioenskap, wat op 23 en 24 Maart in Pretoria plaasgevind het, ’n brons medalje in die sewekamp vir vroue verwerf. Sewekampatlete neem op dag een aan die 100 m-hekkies, hoogspring, gewigstoot en 200 m deel en op dag twee aan verspring, spiesgooi en die 800 m.

Gravett studeer tans biokinetika aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en het tydens die afgelope byeenkoms vir die Noordwes-span deelgeneem. Sy het in 2015, toe sy in gr. 10 was, silwer en brons medaljes tydens die Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioenskap verwerf. Sy is ’n kranige hoogspringer en het in 2017 tydens die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskap met ’n brons medalje in hoogspring vir meisies o.19 weggestap.

Dié slimkop, wat in 2017 sewe onderskeidings tydens haar matriekjaar verwerf het, het aan Die Pos gesê sy het die sewekampitem op die televisie gesien en dit het haar dadelik geprikkel. “Ek het sewe-kamp gekies omdat ek altyd op skool aan alles deelgeneem het en redelik gemiddeld was. Ek het gewonder hoe ek my talente kan  gebruik en toe sien ek die sewekamp en begin navorsing doen. Ek het geweet dit is wat ek wil doen.” 

Sy het in 2017 vir die sewekamp begin oefen en vanjaar op Dinsdag 27 Februarie — slegs twee weke voor die ASA-kampioenskap — die Noordwes-span gehaal. Haar kop staan egter Olimpiese Spele toe. Sy moet aanstaande jaar aan verskeie byeenkomste deelneem om te kwalifiseer.

Sy beskou die Duitse sewekampatleet, Nafissatou Thiam, as haar sportikoon. Sy het gesê die bekende motiveringspreker, Jannie Putter, het haar geleer dat ’n mens nooit verloor nie. ’n Mens wen altyd iets — partykeer leer ’n mens en ander kere wen jy net ervaring.

“Ons is trots op haar. Sy werk baie hard en dit is beloon. Sy oefen elke dag en het soveel selfdissipline. Sy bly nederig en is dankbaar vir elke geleentheid wat sy kry,” het haar ma, Marina Gravett, gesê. Sy is so ’n toegewyde atleet dat sy tydens haar seevakansie ’n plan gemaak het om te oefen toe sy nie by die gimnasium kon uitkom nie. Sy het vyf liter bottels vol water aan ’n besemstok vasgemaak en daarmee geoefen.

“Dit is ’n absolute plesier om Gravett af te rig. Sy het altyd ’n glimlag op haar gesig,” het Willem Coertzen, die voormalige tienkamp Olimpiese deelnemer, wat Gravett afrig, gesê.

Volgens Gravett is dit vir haar belangrik om elke dag haar beste te gee en om soos ’n kampioen te dink om een te word. Haar doel is om as professionele atleet ander mense se lewens te verander en hulle te inspireer.

Haar volgende deelname is moontlik aan die Suid-Afrikaanse universiteite-kampioenskap op Donderdag, 26 April. 

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories