HOOFSTORIES: •   Storm rig groot duisende rande se skade aan   •   Geliefde skoolhoof sterf   •   Onherkenbare lyk op grondpad gevind   •   LUR positief oor Limpopo-ekonomie   •   Sakevrou in hof oor handtekening   •   Skuld oor water op ou pype gepak   •   Fonds help leukemie-lyer   •   Modimolle dalk dorp van die jaar   •   CFO aims for improved audit   •   Biblioteek kleur wêreld anders in   •   Versigtig met sosiale media en misdaad   •   Resep: heerlike kolwyntjies   •   Sy passie laat verlede herleef   •   Oud-Drakie sing weer ná motorongeluk   •   Sport: Silwer vir stoeier by Statebondspele
 


 
 

 

Hansieweek: Spelers verorber 300 brode per dag


   13 April 2018   l   Marietjie Steenkamp    l   Views: 910   l   11 days ago  

 

Alfrieda Pienaar, Rosa Tereblanché, Danie de Bruin, Shirley Botes en Jacqueline Labuschagne het gesorg dat al die rugbyspelers genoeg eet tydens die Hansieweek.


Daar is nie net rugby tydens die pas afgelope Hansieweek by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gespeel nie, maar die jongmanne moes ook gevoed word. 

Dit het ’n gedugte span geverg om te verhoed dat die rugbyspelers honger ly en nóg ’n onverskrokke span wat gesorg het dat elke span met silwerskoon spandrag op die veld gedraf het.

Die Pos het gaan kyk hoe hierdie twee spanne te werk gegaan het om te help dat die gewilde Mauritz Hansen-rugbyweek ’n sukses is.

Jacqueline Labuschagne, Alfrieda Pienaar en Rosa Tereblanché was aan die stuur by die Hansies se kombuis. 

Saam met hulle was daar nog talle ander hande wat reeds van 01:00 af begin het om die kos voor te berei vir die eerste groep van 300 spelers en afrigters wat om 06:00 kom aansit vir ontbyt. Ontbyt is van 06:00 tot 08:00 bedien.

Die span werkers het uit 30 bestaan waar-van vyf in ’n skof gewerk het. 

Hulle moes seker maak dat daar 800 borde en eetgerei uitgepak is vir die stormloop. Altesame 300 spelers het in die studiesaal aangesit en nog 300 in die eetsaal. 

Daar was twee opskeppunte wat deur vier mense beman is. 

Die eerste ete is die Woensdagoggend bedien en 25 kg-mieliemeel is gebruik om pap vir die ete te maak.  

Tydens die week is daar nie minder nie as 15 000 eiers, 3 800 kaasworsies en dun boereworsies gaargemaak. 

Die spelers het ook 75 kg-hawermoutpap, en 30 kg sorgumpap en 385 kg-maalvleis gedurende die week verorber. 

Dit is met 600 liter melk afgesluk en daar is 300 brode per dag geëet met 3 700 pakkies botter en 2 000 pakkies konfyt per ete. Volgens Pienaar het die seuns klaarblyklik ’n soet tand gehad en gemiddeld agt sakkies suiker van agt gram elk per persoon per ete gebruik.

Asof dit nie genoeg was nie, moes daar elke dag braaipakkies vir elkeen gepak word saam met ’n knoffelbroodjie, ’n pakkie skyfies en koeldrank. “Ons het dit per span verpak en dan so afgelewer,” het Pienaar gesê.

“Ons het 80 kg spekstukkies, 300 liter witsous, 60 kg kaas en 115 kg pasta vir die pastagereg gebruik,” het Labuschagne vertel.

Volgens Paul Kruger, afrigter van Hoërskool Lydenburg se spanne, het hulle lekker geëet. Die kookspan het Saterdagoggend hul laaste ete voorberei en was verlig om ’n ruskansie te kry.

Magda Booyens, Petra de Waal, Carina Booyens en tien helpers was van vroeg tot laat by Sekelbos-washuis besig om vuil wasgoed te skrop, was, droog en netjies in spanverband op te vou.

“Ons het Dinsdagoggend begin was. Ons moes van die klere eers skrop om die rooi grond uit te kry,” het Booyens gesê. Die spanne se klere word in gemerkte sakke geplaas, dan gewas en gestryk, op gekleurde hangers volgens span gehang en dan opgevou en in ’n rakkie met dieselfde nommer gepak totdat die span dit kom haal. Volgens Booyens het hulle klere wat geskeur het ook herstel en dan gewas.Sewe wasmasjiene het volstoom gewerk om die 82 rugbyspanne se klere betyds skoon te kry voor wedstryde. “Ons het 1 469 kg klere gedurende die week gewas en 25 liter vloeibare seep gebruik. Dan het ons ook 30 liter vlekverwyderaar, 20 liter Handy Andy, 48 koekies Sunlightseep en ses skrop-borsels gebruik om alles skoon te kry,” het De Waal gesê.

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories