HOOFSTORIES: •   Skok ná speaker onverwags bedank   •   Diensverskaffer begaan flater met rekeninge   •   EFF plak nou op ander stuk grond   •   Eskom gaan nie krag sny   •   Ondersoek ná klagtes oor polisie   •   Bela-Bela-inwoners loop deur onder otm-boewe   •   GPF ontbind ná klagte teen hoof   •   'Doom-profeet' se verhoor begin   •   Vrou sterf op R101-pad   •   Poging tot plaasaanval glo vals alarm   •   Dorp moontlik sonder krag   •   Jagters vereer   •   Hoërskool Warmbad-leerders presteer   •   Atlete sweet tydens gewilde marathon
 

 
 

 

Deoné, jy het op ’n vroeë somervlug vertrek


   31 March 2017   l   Bea Emslie    l   Views: 144   l   7 months ago  

 


Deoné, hoe begin ’n mens meer as 20 jaar se saamlooproete op ’n lewenskaart karteer?

Waar was die eerste ontmoetingspunt, die rusplekke, die afdraaipaaie en die kruisings?

Ek sal mooi moet terugdink. Want die enigste plek waar ek nou my vinger op die kaart kan plaas, is by die eindpunt. Op Woensdag, 22 Maart 2017. Net meer as sewe dae gelede. Die oggend toe die tyding dat jy dood is ons almal by die koerant soos ’n harde vuishou getref het.

So onverwags. Jy was maar 47. 

Vir my was jy meer as ’n kollega saam met wie ek 20 jaar gewerk het. Jy was ook my buurvrou. En ons het ook saam kinders grootgemaak en deur die skool gebid. 

My Jeanne en jou Zené was immers van gr. 1 af saam op die skoolbanke. Meestal in dieselfde klas en op hoërskool deel van ’n groep maats wat baie lief en leed gedeel het. Onthou jy hoe hulle saam by die tafel die wiskundemonster probeer nekomdraai het?

Ons almal by die werk het geweet dat jy vir jou kinders kaalvoet deur ’n doringveld sou loop. Die ma-wees-jas het jou besonder goed gepas en jy het Zené, Anrich en Eon soos sierade op jou lapel gedra. Dit  sal my altyd van jou bybly.

Ons het ’n agterplaas “gedeel”. Daarom het ek soggens geweet as Andries, jou man, voor sonop werk toe ry. Ek het geweet as jy die kinders skool toe neem en daarna het jy klokslag om 07:00 die koerant se voordeur oopgesluit. Jy was altyd eerste by die kantoor. Jy was die eerste mens, buiten my gesinslede, wat ek in die oggend gegroet het. Dan het ons sommer oor ditjies en datjies gesels — skool-, gesin- en hartsake.

Daarna het ons werksdag begin en dan eers het ons geldsake gepraat. Want dit was my swakte en jou forté. Jy het my hande gesterk en jy het presies geweet hoe al ons finansiële stelsels werk. En as daar nie ’n stelsel in plek was nie, het jy een geskep. Jy het elke debiteur soos die palm van jou hand geken.

So het ons elke dag saam in die digter Eveleen Castelyn se spreekwoordelike “skag” afgesak. Hoe hartseer word ek as ek nou die res van dié gedig se woorde lees:

en toe ek na halfvyf

weer uit die hysbak klim

was my kind al groot,

my man was grys

en die swaels het reeds vertrek met die jaar se somervlug

Maar ek moet nou die laaste sin herskryf. Die swaels het nie alleen vertrek nie. Jý het saam met hulle weggevlieg.

En ek moet terugstap op ons roete. Ek gaan nie meer jou stem aan jou kant van “ons” agterplaas hoor nie. Ek hoor nie meer jou motor soggens brul nie en jy sluit nie meer ons kantoordeur oop nie. Daar is geen gedeelde sake meer. 

Jy het ’n ander afdraaipad as ek gevat. Jou roete is nou ’n hemelse een en myne steeds hier op aarde. Want jy, Deoné, jy vlieg nou hoog. Jou voete hoef nooit weer op stofpaaie te loop nie. Vir jou gun ons almal hierdie vroeë somervlug.

* Uit Eveleen Castelyn se gedig, Werkende vrou.   

 


 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first



       


Ander stories